Besonderhede oor die troue is karig, maar verteenwoordigers vir die twee sterre het die blye nuus bevestig. Dave het die voormalige Mad Men-ster op die Mardi Gras-parade in 2012 New Orleans, Louisiana, ontmoet. Hulle het in Augustus 2015 verloof geraak nadat die Now You See Me-ster ’n roosgouddiamantring van die juwelier Irene Neuwirth aan haar vinger gesteek het.

Verlede jaar het Alison onthul sy was nooit van plan om ’n bruid te wees nie tot sy op James Franco se jonger broer verlief geraak het.

Die How to Be Single-ster het aan New York Post gesê sy was nooit die soort meisie wat as kind oor haar troudag gedroom het nie, en nadat sy besluit het om ’n “gekke” loopbaan in Hollywood na te streef, het sy die kans afgeskryf dat sy ooit sou nes skop. “Ek wou nie trou nie,” het sy gesê. “Ek het gedink: ‘Wel, dis nie my pad in die lewe nie, want ek kies hierdie gek leefstyl.”

Maar dit het verander toe sy Dave ontmoet, want hy het haar laat besef daar is meer in die lewe as werk.

“Ek het verlief geraak,” het Alison glimlaggend gesê. “Toneelspel is vervullend, maar dit is nie die enigste ding nie.”

Alison het ook verklap sy het die kans misgeloop om met nog ’n glanspersoonlikheid, Jason Sudeikis, uit te gaan. Dit was nadat ’n gemeenskaplike vriend probeer Kupido speel het.

“Ons het nooit uitgegaan nie, maar voor hierdie fliek, so vier, vyf jaar gelede, het (my vriend) Dan . . . . eendag vir my ’n teksboodskap gestuur waarin hy vra: ‘Sou jy omgee as ek vir jou ’n afspraak met Jason Sudeikis reël?’” het Alison in September 2015 op die Amerikaanse geselsprogram The View vertel.

“En ek het gesê: ‘Nee, dit klink wonderlik!’ En 20 minute later laat weet hy: ‘O, laat staan maar, hy gaan met iemand uit.’ ”

Jason het laat in 2011 met die aktrise Olivia Wilde begin uitgaan. Hulle het in 2013 verloof geraak.

© Cover Media