[caption id="attachment_162076" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die deurwinterde aktrise sê sy het haarself jare lank vir die mishandeling verkwalik omdat sy grootgeword het met die opvatting dat sy “minderwaardig” is.

“Net om jou ’n idee te gee van die omvang van die patriargie se uitwerking op vroue: Ek is as kind verkrag en seksueel mishandel en al afgedank omdat ek nie by my baas wou slaap nie – en ek het altyd gedink dis my skuld, dat ek nie die regte ding gedoen of gesê het nie,” het Jane aan die aktrise Brie Larson vertel in ’n nuwe onderhoud vir Net-a-Porter se tydskrif The Edit.

“Ek ken jong meisies wat verkrag is en nie eens geweet het dit was verkragting nie. Hulle dink: ‘Dit moes gebeur het omdat ek op die verkeerde manier nee gesê het.’

Een van die wonderlike dinge wat die vrouebeweging gedoen het, was om ons te laat besef (verkragting en mishandeling) is nie ons skuld nie. Ons is verkrag en dis nie reg nie.”

Jane (79) is al jare lank ’n vurige ondersteuner van vrouekwessies, maar sê haar grootwordjare het haar daarvan weerhou om ’n feminis te word omdat sy nie sterk genoeg gevoel het om op te staan vir haarself nie.

“Ek het in die 1950’s grootgeword en dit het lank geduur om feminisme in my lewe te begin toepas. Die mans in my lewe was wonderlik, maar slagoffers van ’n (patriargale) waardestelsel. Ek het verkleineer gevoel.

“Ek het eindelik besluit ek gaan nie wie ek is, prysgee om die man in my lewe tevrede te stel nie. Ek het ’n feminis geword toe ek (as enkelloper) Eve Ensler in The Vagina Monologues sien.

Sommerso terwyl ek gelag het, het my feminisme uit my verstand tot in my DNS beweeg. Maar dit het lank geduur om dit te begin uitleef, want ek is grootgemaak met die opvatting dat dit belangrik is om ander mense tevrede te stel.”

© Cover Media