Melanie en Antonio het mekaar in 1995 op die stel van die fliek Two Much ontmoet en is in Mei 1996 getroud. Hulle het ’n 17-jarige dogter, Stella.

Hulle het in ’n verklaring gesê: “Ons het diep hieroor nagedink en het saam besluit om ons huwelik van byna 20 jaar op ’n liefdevolle en vriendelike manier te beëindig. Ons wil mekaar, ons familie en vriende en die pragtige tyd wat ons saam deurgebring het op dié manier eer en respekteer.”

Die paartjie het al in die verlede huweliksprobleme gehad, veral nadat Melanie in 2009 die derde keer by ’n rehabilitasiesentrum aangemeld het. Melanie het Antonio se naam in ’n hart op haar regterarm laat tatoeëer.

Dit sal die vierde keer wees dat Melanie skei – sy was voorheen twee keer met Don Johnson getroud. Haar dogter uit dié huwelik, Dakota Johnson, sal binnekort te sien wees in die fliekweergawe van Fifty Shades of Grey. Melanie was ook getroud met Steve Bauer.

Antonio was ook voorheen aan Ana Leza getroud.

Melanie gaan na bewering vir alleentoesig oor Stella vra.

Shané Barnard

Bronne: Daily Mail, Hollywood Reporter, People, E! Online