Die Glee-ster (31), wat vrywillig ’n maand lank vir dwelmverslawing in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem is en in April ontslaan is, is Saterdag (13 Julie 2013) dood aangetref in sy hotelkamer in Vancouver, Kanada.

Die Stay-sangeres (25) het op Twitter geskryf: “Cory Monteith, mag jou gees rus en mag jy saam met die engele vlieg . . . Hartverskeurend. My gebede is met al sy geliefdes!”

Taylor (23) het getwiet: “Sprakeloos. En om die ergste rede.”

Demi Lovato, wat al vir depressie rehabilitasie gekry het, het geskryf: "#RIPCoryMonteith . . . So ongelooflik tragies.”

Sy het bygevoeg haar gebede is by Cory se meisie van een jaar en medester Lea Michele (26).

Kaley Cuoco, Olivia Munn en Kim Kardashian het ook hul smart uitgespreek nadat hulle die nuus gehoor het.

Die uitvoerende vervaardigers van Glee het ’n gesamentlike verklaring aan People.com uitgereik. Daarin sê hulle: “Ons is diep bedroef oor die tragiese nuus. Cory was ’n uitsonderlike talent en nog uitsonderliker mens. Hy was ’n ware vreugde om mee te werk en ons almal mis hom geweldig. Ons gedagtes en gebede is met sy familie en geliefdes.”

Sy medesterre Dot Marie Jones en Damian McGinty het erken hulle is verslae oor die Kanadese akteur se dood.

Volgens die polisie het Cory op 6 Julie by die hotel ingeteken en was hy die Vrydagaand saam met vriende uit. Hy het toe vroeg die oggend alleen na sy kamer op die 21ste verdieping teruggekeer.

Daar is ook gesê hy was reeds etlike ure dood toe hotelpersoneel op sy lyk afkom. Hulle het na sy kamer gegaan nadat hy nie op die afgespreekte tyd uitgeteken het nie.