Regt. Sulet Potteril het gesê sy kon nie bevind dat die saak dringend was nie. Dit volg nadat sy argumente van Christoff Becker en die departement van korrektiewe dienste aangehoor het.

“Die aansoek is geskrap,” het sy gesê.

Vroeër het Gerrit Muller (vir Christoff) gesê die saak was dringend omdat daar “arbitrêr en onregverdigbaar” op Christoff se reg op vryheid inbreuk gemaak is.

Hy het gesê twee lasbriewe vir herinhegtenisneming is in Februarie uitgereik, en Christoff is sedertdien onwettig aangehou sonder dat hy in die hof verskyn het.

Marumo Moerane, vir die departement van korrektiewe dienste, het gesê: “(Die departement) is ontevrede met hoe lank dit geduur het om vir ’n dringende aansoek hof toe te kom.

“Selfs nadat hy weer in hegtenis geneem is, het hy oortree,” het hy gesê. Hy beweer Christoff het ’n selfoon in sy sel gehad, wat verbode is.

Christoff Becker en Frikkie du Preez is op 16 Februarie weer in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal van hulle aan die lig gekom het waarop hulle in die Kgosi Mampuru-gevangenis na bewering alkohol drink en ’n selfoon gebruik.

Die video, wat na bewering met ’n selfoon geneem is, is op YouTube geplaas. Dit het gewys hoe Frikkie en Christoff drink en ’n selfoon gebruik.

Christoff, Frikkie, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is vroeër in Februarie vrygelaat. Hulle is tronkstraf opgelê nadat hulle in 2001 ’n hawelose man in Pretoria doodgeslaan het.

Christoff (27) het in hofdokumente gesê sy inhegtenisneming in Februarie, vyf dae nadat hy op parool vrygelaat is, was om onsinnige redes.

Christoff het in hofdokumente ontken dat daar alkohol op die partytjie was. Hy het ook gesê die foto’s van Johnnie Walker en J&B was eintlik foto’s op die rekenaar se skermskut.

Hy wou hê die paroolraad moes die besluit tersyde sit om sy parool terug te trek, hy moet terug na die Kgosi Mampuru-gevangenis oorgeplaas word en op dieselfde voorwaardes as in Februarie op parool vrygelaat word.

Christoff wou ook hê sy herinhegtenisneming en aanhouding moet onwettig verklaar word en die departement moet sy regskoste dek.