Baba Isabelle van Kettering, ’n dorp in Northamptonshire, Engeland was in Maart 2014 net vyf weke oud en weerloos teen feitlik enige aanslag. Maar dit was die wrede mishandeling deur haar ouers wat haar lewe onherroeplik verander het. Die laaste keer dat Isabelle onder die paartjie se hande deurgeloop het, het haar met “katastrofiese en lewensingrypende” beserings gelaat. Maar die erns van haar beserings het haar ouers allermins gepla.

Rocky Uzzell (29) en sy lewensmaat, Katherine Prigmore (24), het die hulp van paramedici ingeroep toe Isabelle se ledemate slap word. Sy het glo opgegooi.

Sy is inderhaas na die Kettering-hospitaal gebring nadat hulle daarin geslaag het om haar by te bring. Waar enige ander ouer tot raserny gedryf sou word van kommer oor hul baba, het Rocky en Katherine volgens die paramedici “vreemd” opgetree. Die paartjie het haar in die hospitaal gelaat en koers gekies na ’n kitskos-restaurant. Dit was immers Rocky se verjaardag. ’n Mediese ondersoek het aan die lig gebring Isabelle se brein het ná die voorval geswel. Haar gewrig was verrek. Sy het ook tekens getoon wat soortgelyk is aan groot druk en een van haar bene en regterarm was gebreek.

Asof dit nie skokkend genoeg was nie, het die polisie beslag gelê op die paartjie se selfone. Daarop is verskeie video’s gevind wat die mishandeling boekstaaf. In een video kan gesien word hoe Rocky klein Isabelle kragtig skud en rondskuif. In die agtergrond van die video kan gehoor word hoe Katherine lag.

Toe Isabelle een keer naar word, word haar gesig bloot met iets bedek. Tydens die hofsaak het die twee skaamteloos erken hulle het dit gedoen en dat hulle vir die kind se ernstige fisieke beserings verantwoordelik is. Albei se kinderjare is glo gekenmerk deur geweld en misbruik. In sy uitspraak het regter Rupert Mayo hul gedrag ’n “verwronge beeld van ouerskap” genoem.

Rocky en Katherine is op Woensdag 7 Desember tot onderskeidelik agt en ’n half jaar en twee jaar en vier maande gevangenisstraf opgelê. Rocky se vonnis sluit ook twee en ’n half jaar in vir die besit van onsedelike foto’s van kinders.

En Isabelle? Haar lewensverwagting is swak en sy sal vir die res van haar waarskynlik kort lewe van die sorg van ander afhanklik moet wees. Sy sal bedlêend of aan ’n rolstoel gekluister wees en met ’n pypie gevoer moet word. Sy kan ook blind word. Isabelle kan nou net tussen donker en lig onderskei.

Bronne: thesun.co.uk, metro.co.uk, bbc.co.uk