’n Dringende hofinterdik wat ’n bekommerde ouer van die Hoërskool Kakamas in die Noord-Kaap bekom het, verhoed die provinsiale onderwysdepartement om ’n onderwyser wat voorheen ’n leerling swanger gemaak is, in die pos van skoolhoof aan te stel.

[caption id="attachment_154455" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Die skoolhoof wat die departement aangestel het, is in 2007 aan seksuele wangedrag skuldig bevind.

“Hoewel die ouer ’n lid van die skool se beheerliggaam is, het hy die hofaansoek in sy persoonlike hoedanigheid as bekommerde ouer gemaak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

In ’n nuusverklaring wat Fedsas uitgereik het, sê Jaco die regte prosedure is nie gevolg met die aanstelling van ’n nuwe skoolhoof nie.

“Die skoolbeheerliggaam het ’n aanbeveling vir ’n nuwe skoolhoof vroeg in 2016 gemaak. Die aanstelling is egter nooit deurgevoer nie en die departement het die pos weer geadverteer sonder dat enige redes vir die besluit gegee is.”

Jaco sê die departement het toe verlede November ’n ander skoolhoof aangestel sonder om die regte prosedure  te volg en sonder dat die skoolbeheerliggaam ’n formele aanbeveling gemaak het.

’n Kostebevel is ook teen die departement  toegestaan en die regter het beveel die adjunkhoof moet waarneem as skoolhoof tot uitspraak gelewer is. Die saak is tot 23 Maart uitgestel.

“Hierdie is ’n voorbeeld van uiterse magsmisbruik waar kinders se belange hoegenaamd nie eerste gestel is nie,” lui die verklaring.