Roger Dixon, ’n geoloog en gewese senior forensiese kenner vir die polisie, het gesê die gewig van die koeëldoppie stem nie ooreen nie.

Hy het vir die verdediging getuig dat die Black Talon-koeël wat Reeva getref het, sowat 127 grein geweeg het. ’n Grein is gelykstaande aan sowat 0,06 g.

Die een wat in die toilet gekry is, weeg 65,9 grein. Roger het verduidelik dat as dié gewig getel word by die gewig van die koeël in Reeva se skedel, sal die getalle nie optel nie. Dit beteken dat dit nie dieselfde koeël kon wees nie.

Hy het saamgestem met die getuienis van ’n polisiebeampte wat vroeër aan die hof gesê het dat die eerste skoot Reeva moontlik in die heup getref het.

Terwyl Roger gepraat het oor die wonde aan Reeva se liggaam, het Oscar vorentoe gesit met sy kop in sy hande. Sy suster, Aimee, wat in die galery gesit het, was ook merkbaar ontsteld.

Oscar staan tereg weens moord nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis geskiet het. Hy voer aan hy het gedink dis ’n inbreker in die toiletvetrek.

- Sapa