Terwyl die polisie op soek was na ’n 11-jarige seun in Springs, het hulle glo op ’n kombuis afgekom wat só vuil was dat rotte daar gewoon het. Daar was ook rottemis op die vloer. Só het die ondersoekbeampte in die saak teen die sogenaamde “Springs-monster” getuig.

Binne die Huis van Gruwels.

’n Buurvrou van die gesin het ook getuig hoe die seun in die plafon versteek was toe die polisie na hom gesoek het. Sy het voorts genoem dat beide sy oë toegeswel en blou geslaan was. Die pa het na bewering spelery met ’n vriend daarvoor blameer, maar die bure het dit as alles behalwe speletjies bestempel. Die man het self glo onder wasgoed by die bure se huis weggekruip terwyl die polisie in sy huis na sy seun gesoek het. Lees ook: Tydlyn van die Springs-monster en die Huis van Gruwels

Die man ontken dat hy die bure gevra het om sy seun vir die polisie weg te steek. So het die woedende Springs-gemeenskap destyds teen sy aansoek om borgtog protes aangeteken.

Volgens die ondersoekbeampte op die toneel, Roedolf Jansen, was die res van die huis ook bitter vuil. Nietemin het die woning oor ’n gesofistikeerde veiligheidstelsel beskik wat aan ’n TV gekoppel was.
Daar is glo ook hope pornografie, wat DVDs insluit, in kaste in die hoofslaapkamer gevind.

Die “Springs-monster” het ook ’n vals naam aan die polisie verskaf en wou glo keer dat hulle die vier kinders wat wel tuis was, verwyder. Die man het volgehou sy ander seun het glo saam met ’n oom gaan visvang en dat hy nie ’n telefoonnommer kan verskaf om hom in die hande te kry nie. Die bure het glo dié storie gestaaf en aan die polisie gesê hulle weet nie waar die seun is nie. Dit terwyl hy met sy toegeslane oë in hul plafon weggekruip het. Dis onduidelik waarom die bure besluit het om in daardie stadium vir die polisie te jok oor waar die seun hom bevind.

Die kinders is sedertien in 'n plek van veiligheid geplaas.

Addisionele bron: bbc.com