Vroeër Maandagoggend het adv. Pieter Botha beweer dat die polisie aan Henri sou sê hulle het vir Marli ’n dwelm ingegee wat haar “wawyd wakker” gemaak het en hulle alles vertel het. Sers. Clinton Malan ontken die bewering.

Malan het tydens sy verskyning getuig Henri het aangedui hy het nooit die tweede aanvaller gesien nie.

Adv. Pieter Botha (vir Henri) stel dit aan Malan dat die polisie vir Henri gevra het waarom hy nie sy broer, Rudi, gaan help het nie. Henri het glo emosioneel geraak, maar Malan het dit ontken.

Teresa se broer, André du Toit, het gesê hy is deur kol. Beneke uitgevra oor die familie se verhouding met mekaar. Hy het aan Beneke gesê dit was goed, hoewel hy vermoed Beneke wou uitvis of daar dalk ’n bakleiery was.

Malan sê hy was nie in daardie stadium teenwoordig nie en dat die familie se verhouding in die verklaring ingesluit is. Hy getuig ook hy het nie Henri se t-hemp as getuienis ingedien nie omdat Henri daarsonder kaal bolyf sou wees.

Botha sê Du Toit sal bevestig dat hy aan Malan ’n sak met ’n kortbroek, plakkies en ’n t-hemp vir Henri gegee het, maar Malan ontken dit.

Malan ontken ook dat hy tydens die aflegging van Henri se verklaring aan hom, uit die kantoor gegaan het. Botha sê Henri het gedink Malan het bloot sy verklaring van die notas wat hy gemaak het of wat hy onthou het, afgeneem.

Malan ontken dat die verklaring saamgestel is uit wat hy onthou het nie. Hy sê hy het die verklaring geskryf soos wat Henri dit met hom gedeel het. Hy het volgens hom ook die verklaring met Henri gekontroleer en nooit uit die kantoor gegaan nie.

Botha lig baie spel- en taalfoute in die verklaring uit. Malan het byvoorbeeld “was” in plaas van “were” geskryf; Henri sê hy sou nie daardie soort taal gebruik nie.

Regter Siraj Desai vra aan Malan hoe die foute sou opduik – Malan is Afrikaans en Henri is Engels. Desai sê die foute wat gemaak is, stem ooreen met ’n Afrikaanse persoon wat Engels praat. Malan sê dis spelfoute “hier en daar”, maar dat die grammatika ooreenstem met hoe dit aan hom oorgedra is.

Hy sê Henri het deur die verklaring gelees en die spelfoute raakgesien. Hy het dit onderteken omdat hy onder die omstandighede net huistoe wou gaan.

Henri is 16:20 aan sy familie oorhandig. Die saak duur voort.

  •  Henri van Breda word daarvan aangekla dat hy sy ma, Teresa (55), pa, Martin (54), en broer, Rudi (22), in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch met ’n byl afgemaai het. Hy word ook aangekla van poging tot moord op sy kleinsus, Marli (17), wat erge kopbeserings in die aanval opgedoen het asook regsverydeling.


Volg die saak regstreeks hier