[caption id="attachment_83531" align="alignnone" width="620"](Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Sapa) (Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Sapa)[/caption]

Oscar Pistorius sal ná die afhandeling van sy verhoor graag met kinders in landelike gebiede wil werk.

So het dr. Lore Hartzenberg, Oscar se sielkundige, vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria tydens Oscar se vonnisverrigtinge getuig.

Lore het gesê sy en Oscar het nooit oor sy toekomsplanne gepraat nie, maar dat hulle dit “dag vir dag” gevat het.

“Ek het Oscar gevra wat hy sal wil doen wanneer dit alles verby is. Hy het gesê sy oom het ’n skool in Mosambiek en hy sal graag met die kinders in die landelike gebed wil gaan werk,” het Lore gesê.

Volgens Lore het Oscar ná sy meisie, Reeva Steenkamp, se dood, alles verloor: sy verhouding met sy meisie, sy loopbaan, sy vriende, sy moraal en sy reputasie.

Sy het gesê dit is onwaarskynlik dat Oscar ooit weer volkome sal herstel en die vlak in atletiek sal bereik wat hy voor Reeva se dood bereik het.

Regt. Thokozile Masipa het Maandagoggend Barry Roux, vir Oscar, gevra hoeveel getuies hy sal roep.

Hy het gesê drie, wat na verwagting nie lank sal duur nie, en ’n vierde persoon van die departement korrektiewe dienste.

Regt. Masipa het die aanklaer, Gerrie Nel, dieselfde vraag gevra.

“Dit is moeilik om te sê, U Edele; ons kan nie voorsien wat die verdediging sal lei nie,” het hy geantwoord.

Vier reaksiebeamptes van die polisie was in die hof; twee weerskante van die regter se bank.

- Hilda Fourie / Sapa