Die hooggeregshof in Pretoria het ’n ondersoek beveel na die beste hantering van die saak nadat daar onlangs ontdek is dat twee kinders na bewering net ná geboorte per abuis in ’n hospitaal aan die Oos-Rand omgeruil is, het die koerant The Star Woensdag berig.

Die twee meisies is in die Boksburg-hospitaal gebore.

Die fout is ontdek nadat een van die pa’s vaderskapstoetse aangevra het nadat die ma hom vir onderhoud gedagvaar het.

Die koerant het berig dat albei ouers se toetse negatief was.

Die vrou wou toe na bewering haar biologiese kind terughê, maar die ander vrou wou nie haar dogter teruggee nie, het The Star berig.

Die Sentrum vir Kinderreg moet die feite nagaan en ’n besluit maak oor wat in die kinders se beste belang is.

Dit is nog onduidelik hoe die kinders na bewering omgeruil is.

- Sapa