Die Baaise vrou wat verlede jaar opspraak gewek het toe sy in die hof in hegtenis geneem is, is Vrydag voorlopig op verskeie klagte vrygespreek. ’n Huilende Babalwa Breakfast is op 27 Oktober 2016 in die Port Elizabethse landdroshof in hegtenis geneem op aanklagte van meineed en dwarsboming van die gereg. Dit het gevolg kort nadat sy tot ’n vyandige getuie verklaar is.

Sy het getuig in die moordsaak teen Jayde Panayiotou se man, Christopher, en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko.

Haar kêrel is Luthando Siyoni, wat na bewering huurmoordenaars moes bekom om Jayde te ontvoer en te vermoor. Hy was ook vandag teenwoordig om haar tydens haar kort verskyning in die hof by te staan.

Christopher, Sinethemba en Zolani staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, ontvoering, roof en moord. Hulle ontken skuld. Sizwezakhe Vumazonke, die vermeende huurmoordenaar, is in September 2016 dood.

Jayde (29) is op 21 April 2015 buite haar woonkompleks in Kabega Park, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy vir haar saamrygeleentheid na die Hoërskool Riebeeckpark gewag het. Haar liggaam is op 22 April met ’n skietwond in ’n veld buite die township KwaNobuhle, Uitenhage, gevind.

Die saak sal na verwagting op 19 April 2017 voortgaan.