Die hof het beslis Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp moet weer aangestel word nadat hul werkgewer hulle in die pad gesteek het.

Regter André van Niekerk het namens regter Robert Lagrange, wat aanvanklik oor die saak moes beslis het, uitspraak gelewer. “Die respondent se afdanking van die aansoekers was onwettig,” het die regter gesê.
Die SAUK het die joernaliste summier afgedank toe hulle die openbare uitsaaier se keuse kritiseer om nie gewelddadige optogte te dek nie. Solidariteit het die vier joernaliste verteenwoordig en oor drie dae kan dié joernaliste gerus wees omdat hulle weer ’n werk het.
Solidariteit het aangevoer die joernaliste se afdanking moet opgehef en hul dissiplinêre verhoor teruggetrek word.

Nog vier van hul kollegas, Thandeka Gqubule, Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata en Vuyo Mvoku, is ook afgedank omdat hulle kritiek gelewer het. Vuyo en die ander joernaliste het hulle intussen tot die grondwetlike hof gewend.

Die SAUK het ook op 11 Julie ’n bloedneus gekry toe die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) die uitsaaier opdrag gegee het om sy besluit op te hef om nie gewelddadige optogte uit te saai nie.

Die uitvoerende hoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, het aanvanklik gesê niemand kan die openbare uitsaaier voorsê nie en hulle sal Okosa se besluit in die hof beveg. Verlede Woensdag het Okosa egter bekendgemaak die SAUK het besluit om saam te werk en wel gewelddadige optogte te dek.

Bron: News24