Toe hy in September 2016 tydens ’n mediakonferensie oor sy aanstelling as korporatiewe hoof gepraat het, het hy talle uitlatings gemaak. Al te deftig met sy windmaker-hoed het hy afgeskop met: "Die SABC is baie interessent. Ek's ook baie interessant. Wanneer jy hierdie nuwe voorkoms sien, is dit ook omdat ek na ’n ander posisie skuif. Ek gaan ook daardie posisie, daardie eenheid, in ’n baie interessante een omskep." Hlaudi en sy hoed het geen steen onaangeraak gelaat om die belofte na te kom nie. Tot op Maandag, 12 Desember . . . Dit gons behoorlik nadat regter Owen Rogers voorts ook beslis het dat Hlaudi die posisie wat hy tans beklee, moet ontruim.

Dit is die tweede keer dat Hlaudi se aanstelling in ’n senior posisie by die SAUK in die spervuur kom en in die hof eindig.

Hy mag geen posisie by die SAUK vul tot tyd en wyl die verdoemende verslag wat in 2014 deur die Openbare Beskermer opgestel is, opsy geskuif of nuwe dissiplinêre verhore teen hom gefinaliseer is nie.

Thuli Madonsela se verslag het destyds aangedui dat hy sy matriekresultate opgemaak het en dat hy onder andere ook met ongereëlde tussenposes sy salaris van R1,5 miljoen tot R2,4 miljoen binne 'n jaar verhoog het.

Ten spyte van hierdie verslag is Hlaudi vanaf Julie 2014 permanent by die SAUK aangestel.

Luidens berigte het die hof die aanvanklike dissiplinêre verhoor, waartydens Hlaudi onskuldig daarvan afgekom het, as geheel en al ontoereikend bestempel. Daar is ook Maandag deur die hof opdrag gegee dat ’n nuwe dissiplinêre komitee aangestel moet word om Hlaudi se aanstelling te ondersoek. Bronne: ewn.co.za, mg.co.za, businesslive.co.za

Twitter se reaksie