Theuns het die aansoek ingedien ná AIG hom vroeg in Oktober ingelig het dat hy nie meer aan die konsert kan deelneem nie, nadat hulle hom herhaaldelik gevra het om sy kontrak vir vanjaar se musiekkonsertreeks te teken.

Toe Theuns eindelik die kontrak teken, het hy dit met twee voorwaardes gedoen: Hy wou die volledige verkoop van CD’s en DVD’s van AIG sien en hoe die wins bereken word; en hy wou ook ‘n vergadering hê met Coleske Artists en een van die twee nuwe direkteure van AIG, Mark Rosin of Antonio Lee.

Volgens adv. Werner Lüderitz SC het Theuns al die kontrak in Maart vanjaar gekry. Hy het toe gesê hy sal dit teken en vir AIG terugstuur, maar het nie.

“Vir ‘n lang tyd het mnr. Jordaan niks gedoen nie. Hy het nie ‘n enkele klagte oor die kontrak se stipulasies gehad nie.

“Jordaan het geglo hy kan sy beroemdheid gebruik om die respondente af te pers deur in die kontrak voorwaardes te stel wat niks met die konsert te doen het nie. Hy het gedink hulle is desperaat om hom deel van die konsert te hê en sou daarom ingee.

“Hy het sy beroemdheid en reputasie gebruik om druk te plaas op die respondente dat as hulle nie aan die voorwaardes voldoen nie, hy nie aan die konsert gaan deelneem nie.”

Lüderitz sê daar was baie frustrasie vir AIG. Theuns het geweier om hul oproepe te neem of te antwoord op boodskappe. Hy het ook verskeie vergaderings nie bygewoon nie. “Dit alles het in sy gesig teruggeslaan.” Waarnemende regter Corrie van der Westhuizen het beslis AIG is onder geen verpligting dat Theuns Jordaan by vanjaar se konsert optree nie. Theuns se regspan wou nie aan Huisgenoot kommentaar lewer nie. Hulle wil eers die regsdokumente bestudeer. Die sanger Jay du Plessis het ook sy opinie in sosiale medie gelug en gesê hy stem volkome saam met die uitspraak.