Zolani Sibeko, wat saam met Christopher Panayiotou en Sinethemba Nenembe van onder meer die moord op Jayde Panayiotou aangekla word, het verlede week sy eerste borgtogaansoek in die hooggeregshof in Port Elizabeth ingedien. Sy aansoek is daarop gebaseer dat die staat nie ’n prima facie-saak teen hom het nie. Sy borgtogaansoek is egter Maandag afgekeur.

Zolani staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering en roof met verswarende omstandighede.

Christopher Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy ’n huurmoordenaar deur ’n uitsmyter by sy nagklub gehuur het om sy vrou op 21 April 2015 te vermoor.

Sy was ’n onderwyser by die Riebeek College Girls’ High School in Uitenhage.

Die uitsmyter, Luthando Siyoni, het voor die verhoor ’n staatsgetuie geword, maar is tot vyandige getuie verklaar nadat hy verlede maand vir twee agtereenvolgende dae geweier het om die staat se vrae te beantwoord. Christopher, Zolani en Sinethemba Nenembe het almal onskuldig gepleit. Nog ’n beskuldigde, die vermeende huurmoordenaar Sizwe Vumazonke, is in die hospitaal oorlede nadat hy in September in ’n koma verval het voor die verhoor begin het. Tydens Zolani se borgtogaansoek verlede week het sy prokureur, Peter Daubermann, gesê die staat se saak teen sy kliënt is gegrond op selfoon- en voertuigopsporingsdata en dat die staat nie eens ’n selfoonkenner op hul lys van getuies het nie.

Bron: News24