Die koning van ruk-en-rol, Elvis Presley, sou vandag sy 81ste verjaardag gevier het, maar dié beroemde sanger en akteur is in 1977 in die ouderdom van 42 jaar oorlede.

Elvis se eerste kommersiële treffer, That’s All Right (Mama), het hy reeds op 19 opgeneem lank voor hy ’n bekende naam geword het.

Teen 1956 het hy reeds nasionale roem in Amerika verwerf en het dieselfde jaar sy eerste toptreffer op Billboard se treffersparade gehad met Heartbreak Hotel.

Terwyl duisende kanniedood-aanhangers wêreldwyd ’n pelgrimstog na Elvis se huis, Graceland, onderneem om hulde aan hom te bring, het ons dit goed gedink om die geleentheid van sy verjaardag te gebruik en ’n paar minder bekende maar tog interessante feite oor dié man te deel.

1. Elvis het ’n tweelingbroer gehad

Elvis Aaron Presley is 8 Januarie 1935 in East Tupelo, Mississippi, gebore. Hy het ’n doodgebore tweelingboetie gehad wat die volgende dag in ’n ongemerkte graf begrawe is. Jare later sou ons hoor sy broer se naam was Jesse Garon. Al het hy hom nooit geken nie, het Jesse ’n belangrike rol in Elvis se lewe gespeel.

2. Elvis het Graceland gekoop voor sy 23ste verjaardag

In 1957 het Elvis $102 500 opgedok vir die herehuis in Memphis, Tennessee, wat die sinoniem met hom geraak het. Die huis is oorspronklik gebou deur dr. Thomas Moore op die landgoed wat aan sy vrou, Ruth, se groottante Grace behoort het. Vandaar die naam Graceland.

3. Elvis was in die weermag selfs nadat hy beroemd geword het

Elvis het sy musiekloopbaan in 1954 begin, en is in 1957 opgeroep om by die Amerikaanse weermag aan te sluit. In 1958 is hy gevra om sy diensplig in Duitsland uit te voer en dit was ook in hierdie tyd dat hy sy aanstaande vrou, Priscilla Beaulieu, die dogter van ’n lugmagkaptein, ontmoet het.

4. Elvis het nooit buite Amerika opgetree nie

Na raming is sowat 40 persent van Elvis se musiekverkope buite die VSA. Maar buiten ’n handjie vol optredes in Kanada in 1957, het Elvis nooit ’n konsert in die buiteland gehou nie. Die skindertonge het met die jare geklap oor die gerug wat die ronde doen dat Elvis se bestuurder, kol. Tom Parker, winsgewende geleenthede oorsee van die hand gewys het omdat hyself ’n onwettige immigrant in Amerika was. Hy was glo bang hy sou nie weer die land kon binnekom as hy dit eers verlaat het nie.

5. Elvis het ’n presidensiële seiljag besit

In 1964 het Elvis $55 000 opgedok vir ’n 50 m lange seiljag wat eens op ’n tyd aan Amerika pres. Franklin D. Roosevelt (FDR) behoort het. Die Pontomac was tussen 1936 tot 1945 FDR se “seilende Withuis”. Ná die president se dood in 1945 het die boot in privaat besit beland en etlike kere van eienaar verwissel voor Elvis dit gekoop het. Tog het hy dit nie lank benut nie, want dit is kort voor lank aan die St. Jude-kinderhospitaal geskenk, wat dit verkoop het.

Elvis se eertydse vliegtuig is ook vroeër vanjaar verkoop.

Bronne: History; Indian Express; Wikipedia