’n Hoëtegnologie-weergawe van die beweerde lewensreddende hou teen ’n haai se snoet word getoets in ’n poging om mense te beskerm sonder dat dié getande roofdiere of ander seediere skade ly.

In die blou water van ’n baaitjie in Kaapstad word ’n revolusionêre eksperiment uitgevoer met ’n elektroniese versperring haaie se sensitiewe snoet wil gebruik om swemmers en branderryers veilig te hou.

Die tegnologie is deur Suid-Afrikaanse kenners ontwikkel wat die elektroniese “shark pod” ontwerp het vir gebruik deur branderryers en duikers. Dit word nou deur ’n Australiese onderneming bemark en kan wêreldwyd ingespan word, as dit suksesvol is.

Jare se navorsing het getoon haaie draai weg wanneer hulle ’n elektriese stroom teëkom en dit het gelei tot hierdie eksperiment op ’n veel groter skaal.

’n Honderd meter hoë kabel wat ontwerp is om ’n lae frekwensie elektroniese veld uit te stuur word nou by Glencairn aan die seebodem geheg en sal vyf maande daar bly.

“Indien suksesvol sal dit die grondslag bied om ’n versperringstelsel te ontwikkel wat baaiers kan beskerm sonder dat dit haaie of ander seediere doodmaak of skaad,”  sê die Haairaad van KwaZulu-Natal, wat die shark pod ontwikkel het.

“As iemand raak aan die klein deel van ’n elektrode wat ontbloot is, kan hulle dalk ’n tinteling voel,” maar mense sal geen nadelige uitwerking ervaar nie.

Die versperring sal ’n groot verandering wees van die haainette wat die afgelope 50 jaar in KwaZulu-Natal gebruik word. Die nette maak ook ander diere dood en word daarvoor gekritiseer dat dit sleg is vir die omgewing.

Navorsing het getoon haaie het ’n jel in hul snoet wat hulle sensitiewer vir elektriese strome as ander spesies maak. Dus sal die versperring geen gewone vis en seediere, soos robbe en dolfyne, raak nie.

“Ons doen ons allerbes om iets omgewingsvriendelik te doen,” het Paul von Blerk, projekspesialis van die Haairaad aan AFP gesê.

Maar daar is reuse uitdagings.

“Dit is makliker om goed te ontwerp om in die ruimte te plaas,” sê Claude Ramasami, projekbestuurder by die Instituut vir Maritieme Tegnologie, wat die Haairaad hul planne in werking help stel.

Dit is weens die meedoënlose krag van die see, verskuiwings in die seebodem, ondersese strukture en seelewe – en bloot om elektrisiteit in water te gebruik.

Een van die redes waarom Glencairn in die Kaap vir die eksperiment gekies is, is omdat dit redelik beskut is vergeleke met die dikwels dawerende branders op die toeristestrande van KwaZulu-Natal.

Die deursigtige water sal vaste kameras moontlik maak. En haaikykers op kranse daar naby sal ook die bewegings van die roofdiere kan monitor om te kyk of die versperring hulle uit hul gewone swemroetes laat wegswenk.

Daar behoort geen tekort aan aksie te wees nie. In ’n waarnemingstydperk van 25 dae is 53 haaie van die strand af gesien.

Omgewingsbewaarders verwelkom die eksperiment.

Alison Kock, ’n biologiese wetenskaplike en navorsingsbestuurder vir Shark Spotters in Kaapstad, het aan AFP gesê dit is “’n baie goeie idee”.

“Dit is ’n opwindende geleentheid om na nuwe tegnologie te kyk met die eindelike doelwit om dodelike beheermaatreëls, soos haainette en dromlyne (met aas), te vervang.

“Die tegnologie is baie spesifiek, want dit is gerig op ’n sintuig wat net haaie en pylsterte het. Soogdiere, soos dolfyne en walvisse, het nie so ’n sintuig nie; daarom sal hulle nie geraak word nie,” sê sy.

Die jel in ’n haai se snoet stel hulle in staat om piepklein elektriese velde, soos ’n hartklop, waar te neem om hul prooi in troebel water op te spoor. Maar wanneer hulle ’n paar meter van die versperring af is, behoort die krag genoeg te wees om hulle te laat wegdraai.

Die senior bestuurder van die Wêreldnatuurfonds se mariene program in Suid-Afrika, John Duncan, sê die organisasie is “absoluut ondersteunend van ingrypings wat poog om mens-dier-interaksie op ’n nie-dodelike en nie-botsende manier te bestuur.

“En tans is dit ’n toenemende uitdaging met die withaai-aanvalle in Suid-Afrika.”

Alison sê haaie het die afgelope 10 jaar 13 mense in Suid-Afrika doodgemaak.

- Lawrence Bartlett