’n Amerikaanse leerder wat daarvan beskuldig word dat hy by sy skool se rekenaarstelsel ingebreek het om sy eie punte te verhoog en die klaspunte van 300 ander leerders te verander, kan nou vir sewe jaar tronk toe gestuur word.

Daniel Soares (17) van Long Island, New York, is een van drie leerders aan die Hoërskool Commack wat weens kuberkraak-manewales aangekla word. Daniel was na bewering die meesterbrein agter alles.

Hy staan tereg op twee aanklagte van inbraak, drie van peuter met rekenaars en een van identiteitsdiefstal. As hy skuldig bevind word, kan hy sewe jaar agter tralies deurbring.

Mindere aanklagte staar die ander twee leerders, Erick Vaysman (17) van Commack en Alex Masquera (17) van East Northport, New York, in die gesig. Die polisie voer aan hulle het van die beweerde kuberkrakery geweet, maar nie die skoolgebou binnegegaan nie.

Die beamptes sê Erick het Daniel ook gevra om ’n punt te verander wat hy gedink het laer is as wat hy verdien, terwyl Alex hom gevra het om ’n ander leerder se puntetelling in die hande te kry.

Erick word van peutery met rekenaars aangekla en Alex van rekenaarbetreding. Hulle kan elk tot vier jaar tronkstraf kry.

Daniel het blykbaar paniekerig geraak en verdwyn nadat speurders op 2 September ’n lasbrief bekom het om sy ouerhuis te deursoek, waarna sy ouers ’n desperate pleidooi in die media uitgereik het in die hoop om hom te vind.

Hy het ’n paar dae later deur Facebook met hulle kontak gemaak en gesê hy is oukei. Toe is hy terug huis toe.

Een van die polisiebronne het Daniel se gedrag met Matthew Broderick se wysneus-hoërskoolkarakter in die 1986-fliek Ferris Bueller’s Day Off vergelyk.

Die drie tieners het hulle die aand in die teenwoordigheid van hul ouers en prokureurs oorgegee, maar is sonder borgtog vrygelaat.

Bronne: News.com.au, Newsdaym NY Post