Tydens die oggend se aankondigings verlede Woensdag het leerders aan die Hoërskool Brodhead in Amerika ontstellende nuus ontvang: Vier medeleerders is dood in ’n motorongeluk waarin die stuur van teksboodskappe ’n rol gespeel het.

’n Tweede aankondiging het sowat 10 minute later gevolg: Die leerders is toe nie dood nie, en die aankondiging was om bewusmaking te skep oor die gevare van teksboodskappe stuur terwyl jy bestuur.

“Hulle het in die fynste besonderhede vertel hoe met een van hulle hospitaal toe gejaag is,” het die leerder Sam Bolen aan die Washington Post vertel.

“Ek was ontsteld. Dis ’n klein skool en die meeste van die mense het geweet wie hulle was. Jy ken eintlik almal as jy in ’n kleiner skool is.”

Hy het vertel hy het ná die aankondiging vir sy ma ’n boodskap gestuur en ander ontstelde leerders het ook hul gesin so laat weet.

Lees ook: Hoe gemaak wanneer jy aangekeer word vir dronkbestuur

“Baie van ons vriende en medeleerders het begin huil,” het Madison Trombley aan NBC 15 News vertel.

Soortgelyke aankondigings is glo deur die loop van die dag gemaak met ’n video van die “dooie” leerders wat ook gewys is.

Die betrokke leerders is glo vooraf vertel van die idee en is gevra om nie hul klasmaats te laat weet dat hulle leef nie.

Nodeloos om te sê, het die hoërskool onder skoot gekom vir die “onvanpaste” en “ontstellende” aankondiging.

“Dit was nie werklik doeltreffend nie,” sê Sam.

“Hulle het vreestaktiek probeer gebruik wat ’n mens niks leer nie, behalwe dat jy nie die onderwysers of enige aankondigings moet vertrou nie.”

Lees ook: Hierdie advertensie teen dronkbestuur sal jou diep skok

Die distriksuperintendent het ter verdediging gesê die aankondiging was nie bedoel om leerders die skrik op die lyf te jaag of hulle te laat stres nie.

Hoewel talle ouers gekla het oor die uitwerking daarvan op hul kinders, glo die superintendent die veldtog het op ’n doeltreffende wyse die gevolge gewys van teksboodskappe stuur terwyl jy bestuur.

Die hoof het bygevoeg dat die aankondiging eintlik die leerlingraad se idee was as deel van ’n deurlopende veldtog vir veilige bestuursgewoontes.

Bronne: washingtonpost.com, nbc15.com