Hoekom vier Christene nog Kersfees?

Die Afrikaanse sanger Johan C. Venter is onlangs met dié vraag gekonfronteer en het besluit om ’n liedjie daaroor te skryf.

Wat was die inspirasie vir jou liedjie?

Daar is deesdae ál meer Christene wat die oorsprong bevraagteken van Kersfees soos ons dit vandag vier. Ná ’n gesprek met ’n Christen wat teen Kersfees gekant is, is daar vir my gesê dat “as ’n Christen, is daar geen genade vir jou as jy die waarheid hoor en besluit om dit te ignoreer nie”.  Gedurende hierdie gesprek het ek verskriklik veroordeel gevoel. Ek het gevoel of ek en die res van ons wat Kersfees vier, as “minder” Christelik beskou word, bloot omdat ons so “dom is om in Kersfees te glo”. Asof iemand in my gesig vir my sê dat alles wat ons met Kersfees vier, leuens is en of ons, pleks dat ons God se geskenk vier, eintlik ’n fees hou gegrond op heidense rituele.

Dus het ek besluit om ondersoek in te stel oor die gronde waarop hierdie persoon my laat voel het asof ek ’n geloofsmisdaad pleeg. Tot my verbasing het elke argument teen Kersfees vir my 100 persent sin gemaak, maar vir my was dit nie genoeg om my heeltemal te oortuig om Kersfees prys te gee nie. Dit het my wel by ’n kruispad gebring, want ek het nooit gevoel ons vier bloot fees en dat ons ons oorgee aan heidense geloofsfeeste nie; ons het op 25 Desember nog altyd die geskenk gevier wat God vir ons gegee het.

Ons is gebroke en voer elke dag ’n stryd; deesdae soveel meer. God se geskenk maak ons vry; ons vergeet dit net so maklik. So ek wíl saam met my familie Kersfees vier, ongeag wat ander mense sê ons eintlik vier, ongeag dat ons kersbome het, ongeag dat ons geskenke gee en ontvang.

Ek wil deur die liedjie ’n spreekbuis wees vir ons almal wat steeds op Kersdag God se geskenk aan ons vier: Jesus se geboorte. “Ons koning het vir ons gekom; ons is vrygemaak deur Hom.”

Ja, Kersfees het ’n groot kommersiële geldmakery geword en ja, die oorsprong van die meeste van die simbole in wat ons met Kersfees vereenselwig, is van heidense afkoms. Maar skuif daai dinge uit, vergeet van die foefies en vier Kersfees saam met jou familie.

Moenie skuldig daaroor voel nie . . . as jy wel skuldig voel of voel dat jy nie Kersfees wil vier nie, is dit ook reg. Ek wil net nie hê iemand moet my skuldig laat voel omdat ek dit wel vier nie, want ek weet waarom ek, en ook die meeste Afrikaners Kersfees vier.

Dus het ek besluit om ’n Kersliedjie te skryf met die tema: waarom ons Kersfees vier sodat mense daarna kan luister, saamsing en daardeur net weer kan bevestig waaroor dit gaan.

Waaroor gaan Kersfees vir jou?

Kersfees gaan vir my oor familie en ons wat saam God se geskenk aan ons vier. Kersfees is een van die spesiaalste tye van die jaar! Soos my liedjie Daarom Vier ons Kersfees sê: Kersfees is vir my ’n simbool van Liefde, vrede, oorgee in plaas van ingee en amper die belangrikste vir my - ’n tyd wanneer hoop weer in ons hart gebore kan word.

Wat is jou Kerswens vir Suid-Afrika?

Wow, dis ’n moeilike vraag. Ek dink as ek een ding moet uitlig, is dat almal die geleentheid kan kry vir ’n ordentlike opvoeding! Ek dink dit is een van ons grootste probleme tans en veroorsaak ook dat ons nie as een nasie met mekaar kan kommunikeer nie. Ek meen, almal kan nie eens ordentlik Engels praat nie . . . die mees wydgesproke taal ter wêreld. Iets so klein soos dat ons nie met mekaar kan kommunikeer nie, kompliseer alles . . . bloot omdat ons mekaar nie kan verstaan nie en dit maak my mal.

Wat wil jy graag vir Kersfees hê?

Ek wil niks vir Kersfees hê nie. Haha! Oukei, ’n luukse motor sal altyd goed ontvang word! Ek dink ek wil ’n slag ’n bietjie iets gee eerder as ontvang en my liedjie is dit vir vanjaar.

Hoe gaan jy Kersfees vier?

Sedert my pa in 2005 oorlede is, het Kersfees vir ons as familie nogal baie verander. Dae soos Kersfees het nou ook ’n bitter smaak aangesien ons familie nie meer heeltemal heel is nie. So met Kersfees is ek gewoontelik by my ma-hulle, waar hulle ook al besluit hulle wil wees. ’n Braaivleisvuurtjie sal aangesteek word, my ma sal 10 teen een mooi tafel dek met foto’s van almal wat ons wens saam met ons daar kon wees en nie meer is nie en dan gaan ons maar net saam God se geskenk aan ons vier. Gesels, fliek, lê op die banke, dalk see toe gaan en waatlemoen eet . . . o ja en trifle! My ma se trifle is die beste. Ons doen nie meer die geskenke-ding nie tensy my sussie en haar seuntjie by ons aansluit, dan sal ons 10 teen een geskenkies uitdeel om sy onthalwe. Hy is nou vier en daar is min dinge so lekker soos om ’n kleintjie te sien geskenke oopmaak. Dit maak mens nogal gelukkig . . . Kan nie wag nie!

Wanneer en waar gaan die liedjie beskikbaar wees?

Die liedjie is vanaf 1 Desember beskikbaar op iTunes; mense kan die liedjie solank vooraf bestel. Ons sal 10 teen een ook ’n SMS-kode beskikbaar maak vir mense om die liedjie af te laai op hul foon. Ons is tans ook besig om ’n video vir die liedjie te beplan. Die video behoort ook teen 1 Desember vrygestel te word.

Kry die liedjie HIER.