Die studie is deur Amerikaanse navorsers gedoen om die sogenaamde tweeling-effek onder die vergrootglas te plaas. Dié effek behels dat tweelinge ’n laer vlak van taalprestasie het as enkelgebore kinders. Die hoofnavorser, prof. Mabel Rice van die Universiteit van Kansas, het gesê die verwagting voor die studie was dat die effek ewe groot by sowel identiese as nie-identiese tweelinge sou wees.

Maar uit die 473 tweelingpare wat bestudeer is, het die navorsers bevind 47 persent van die identiese tweelinge het ’n taalvertraging, vergeleke met 31 persent van nie-identiese tweelinge. Die tweelinge in die studie was twee jaar oud. ’n Taalvertraging beteken ’n kind voldoen nie aan die ouderdom- en geslagsverwagtinge vir taal nie – dit word bepaal op grond van hoeveel woorde hulle ken en in sinne kan kombineer.

“Hierdie bevinding betwis stellings wat sê vertraging in vroeë taalverwerwing by tweelinge is weens ma’s wat minder aandag kan gee omdat twee kleuters groter eise stel,” het Mabel gesê. “Dit behoort gerusstellend te wees vir besige ouers wat bekommerd is oor of hulle genoeg individuele aandag aan elke kind gee.”

Sy het wel ook gesê die hoër voorkoms van taalvertraging kan ook beïnvloed word deur komplikasies tydens geboorte of vroeë geboorte, wat algemener is onder identiese tweelinge.

- Suzaan Hauman

Bronne: eurekalert.org, business-standard.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.