Al beveel party babaklinieke in Suid-Afrika aan om inentings uit te stel as die ma bekommerd is oor die effek daarvan, waarsku kenners dit (of nog erger, om jou kind se inentings te ignoreer of vergeet) kan dodelik wees.

Ná die onlangse uitbreek van masels en kinkhoes in die VSA het die aanlyn weergawe van die tydskrif Time berig oor ’n onderhoud met dr. Michael J. Smith, ’n pediater by die Universiteit van Louisville in die VSA, wat inentings en ontwikkelingsgesondheidsuitkomste in kinders bestudeer.

“Jy weet nooit wanneer dit jou gaan tref nie,” sê dr. Smith. “En as jy jou kind se inentings uitstel of -spasieer, stel jy nie net jou eie kinders in gevaar nie, maar ook ander.” Hy sê om ’n inenting uit te stel is soos om jou kind in hul karstoel vas te maak wanneer jy eers die volgende verkeerslig bereik.

Anelle Greyling is ’n spesialisverpleegster by die Panorama-borsvoedingkliniek  in Kaapstad en stem volmondig saam. “Ten spyte daarvan dat dit beter is om ‘n inenting eerder laat as nooit te doen nie, is elke dag dat jy die inenting uitstel, is ’n risiko. Ons sien deesdae meer gevalle van kinkhoes as in die verlede en ons sien dit dikwels in babas jonger as ses weke – met ander woorde dié wat te jonk is vir inenting. Die bron is dikwels ’n ouer of oppasser. Ons raai alle ouers, grootouers en oppassers laat hulle inent, veral teen kinkhoes, om die jong baba te beskerm.”

Die Panorama-borsvoedingkliniek stel voor ma’s hou by die voorgeskrewe inentingskedule. “Die entstowwe is ontwikkel om in die ontwikkeling van die baba se eie immuniteit te pas. As jy dus ’n paar vroeër (of later) doen, gaan dit nie so doeltreffend wees nie.”

Anelle sê ouers hoef hulle nie te bekommer dat die inentings hul baba se immuunstelsel oorlaai nie. “Jy stel jou baba aan meer bakterieë bloot met ’n potjie babakos van ’n winkel as met ’n inenting. Die nuwe inentings het ook veel minder newe-effekte as in die verlede.”

Sy voeg by al die geskeduleerde inentings is baie belangrik. “Babas word in die eerste maande ingeënt teen witseerkeel, tetanus, kinkhoes en HIB (tipe B-hemofilusgriep), asook hepatitis B,  pneumokokkale siekte en rotavirus (gastroënteritis). Dit beskerm nie net teen longontsteking nie, maar ook teen bakteriële meningitis, wat lewensgevaarlik is.” Op nege maande word hulle ook teen pneumokokkale siekte en masels (die eerste inenting) beskerm, wat deel uitmaak van die Uitgebreide Program oor Immunisering (UPI), wat in 2010 bekendgestel is.

Die groot veranderinge sluit in die byvoeging van die entstowwe vir pneumokokkale toegevoegde (Prevenar ®), rotavirus (Rotarix ®) en pentavalent (Pentaxim ®).

Hier is die amptelike UPI-skedule:

  • Geboorte

    • Orale polio-inenting (0)
    • BCG-entstof teen TB

  • Ses weke

    • Orale polio-inenting (1)
    • Rotavirus-inenting (1)
    • DTaP-IPV/Hib 1 (dit is teen witseerkeel, tetanus, asellulêre kinkhoes, geïnaktiveerde polio-entstof en tipe B-hemofilusgriep)
    • HBV (1) teen hepatitis en die pneumokokkale toegevoegde entstof (1)

  • 10 Weke

    • DTaP-IPV//Hib (2)
    • HBV (2)

  • 14 Weke

    • Rotavirus-inenting (2)
    • DTaP-IPV//Hib (3)
    • HBV (3)en pneumokokkale toegevoegde entstof (PCV 2)

  • Nege maande

    • Masels-inenting (1)
    • PCV (3)

  • 18 maande

    • DTaP-IPV//Hib (4)
    • Masels-inenting (2)

Ouers kan ook van eenjarige ouderdom die skedule van ’n privaat praktyk volg, wat die bogenoemde asook die onderstaande inentings insluit:

  • Een jaar

    • Waterpokkies en hepatitis A

  • 15 maande

    • MMR (pampoentjies, masels en Duitse masels)

  • 18 maande

    • Hepatitis A-versterkingsinspuiting

Anelle voeg by ’n inenting teen waterpokkies, Varilrix, kan teen nege maande ook aan babas gegee word wat hoërisiko-gevalle is, soos vroeggebore baba of dié met ’n verswakte immuunstelsel. Dit is nie wyd in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar GlaxoSmithKline (GSK) voer dit in en verkoop dit.

- Dalena Theron

Ekstra bronne: time.com, kznhealth.gov.za, health24.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.