“Dit blyk asof die aanvaller Marthella gemartel het voor hy haar doodgemaak het. Ek wonder wat dit is wat die aanvaller wou bereik?” het hy die seun in die getuiebank gevra.

“Ek weet nie, ek weet nie, (ek) weet nie,” was sy antwoord.

Die minderjarige seun word aangekla van die moord op Deon (44), Christel (43) en Marthella Steenkamp (14). Hulle is verlede jaar op 6 April doodgeskiet op hul plaas, Naauwhoek, naby Griekwastad. Die seun word ook daarvan aangekla dat hy Marthella verkrag het, en vir die polisie gelieg het.

“Dit is vreemd, is die nie?” het die regter opgemerk.

Die seun het saamgestem.

Die verhoor is uitgestel tot volgende Woensdag wanneer slotargumente aangehoor sal word.

Vroeër het die staat aangevoer die tiener se getuienis is onmoontlik.

“Ons is reeds ver van waarskynlikheid; ons is by die onmoontlike,” het die staatsaanklaer Hannes Cloete gister op die derde dag van die seun se kruisverhoor gesê.

Hy wou ook weet waarom die moordenaar so goedgesind teenoor hom sou wees.

“Hy is ’n wrede, koudbloedige moordenaar en hy het jou blykbaar toegelaat om op die toneel rond te beweeg. Besef jy hoe vreemd dit klink?” wou hy van die seun weet.

Cloete het gesê die seun se bewering dat iemand anders op die toneel was, is onmoontlik, want dan sou Marthella in alle waarskynlikheid nie weer by die huis kon ingaan nie. Sy het in die huis gesterf, vermoedelik toe sy probeer bel het.

Die aanklaer het gister die seun se getuienis getoets oor waar hy die slagoffers in die huis gesien het en hoe ’n groot hoeveelheid bloed op sy T-hemp beland het.

Cloete het die seun gevra oor aanmerkings wat hy teenoor getuies gemaak het wat dui op binnekennis oor die misdaad en die toneel.

“Vandat jy by die polisiekantoor was, het jy gepraat oor die mense wat doodgeskiet is. Jy hou daarmee vol deur al die getuienis asof jy heeltemal seker is.”

Cloete het beklemtoon dat die seun in die hof gesê het hy het nie na die slagoffers op die moordtoneel gaan kyk nie.

“Jy sou nie weet watter wonde daar was nie,” het hy aan die tiener gesê.

Die aanklaer het beweer die moorde en Marthella se verkragting hou verband.

Cloete het ook gesê hulle sal aanvoer die seun het al drie die Steenkamps vermoor.

“Wat is jou reaksie? Is dit so of is dit nie so nie?” het Cloete gevra.

Die seun het die aantygings ontken.

Ter opsomming van sy kruisondervraging, het Cloete gesê daar is geen aanduiding dat iemand anders, behalwe die seun, die misdade kon gepleeg het nie.

“Dit was nie ek nie. Daar moes iemand anders gewees het,” het die seun geantwoord.

Cloete het gesê die staat het die seun ’n regverdige kans gegee om sy storie te verduidelik.

“Jy het geen van die geleenthede gebruik nie. Nie een deel van jou getuienis was bevredigend nie.”

Volgens Cloete was niks wat die seun in die hof gesê het, die waarheid nie.

Hy het ook gesê hoe die seun sy vrae beantwoord het, is kommerwekkend.

Die saak is kort ná middagete uitgestel. – Sapa