Bic-bolpuntpenne is so deel van die Suid-Afrikaanse landskap soos braaivleis, biltong en boeremusiek.

Net soos die meeste verbruikersprodukte, word die ontwerp daarvan bloot as vanselfsprekend aanvaar. Maar het jy al ooit gewonder waarom daar ’n gaatjie aan die einde van hierdie staatmakerpenne se doppies is?

Lees ook: Meer oor daardie piepklein sakkie aan jou jeans

Alhoewel nie almal pen- of potloodkouers is nie, is dit juis om hierdie rede dat die doppies met ’n gaatjie spog: vir ingeval jy jou pendoppie kou, dit per ongeluk insluk en daaraan verstik.

Bic het reeds in 1991 hierdie gaatjie deel van hul pendoppies se ontwerp gemaak.

Lees ook: Kreatiewe stilis omskep haar kapsel in kunswerke

Maar wees gewaarsku! Dit is nie ’n onfeilbare oplossing nie. Die beste raad bly maar steeds om penne in die hand en uit die mond te hou.

Kitsfeite oor Bic:

  • Bic is ’n verkorting van die stigter, Marcel Bich, se naam. Hy en sy vennoot, Edouard Buffard, het in 1945 begin met die vervaardiging van vulpenne en meganiese penparte in Clichy, Frankryk.
  • Hulle was egter nie die eerste bolpuntpen-vervaardiger nie. Daardie eer behoort aan Bíró wat die uitvinding in 1938 in Parys patenteer het.
  • Die klein mannetjie wat deel van die logo is, word die "BIC Boy" genoem. Hy was oorspronklik as ’n skoolseun uitgebeeld met sy kop in die vorm van ’n bal en hy het ’n pen agter sy rug vasgehou.
  • Die alombekende Bic-aansteker het in 1973 die lig gesien. Daar word gesê jy kan hierdie aansteker tot 3 000 keer kan gebruik voor sy fut uit is.
  • Kleurkryte word vanaf 1979 deel van Bic se stal nadat die maatskappy Conté van Frankryk oorgeneem het.
  • Vandag is daar meer as 280 Bic-produkte wat in 160 lande verkoop word.
  • As jy ’n aanhoudende lyn met jou Bic-bolpuntpen sou trek, sou dié lyn enigiets van twee tot drie kilometer strek.

Bronne: thesun.co.uk. bicworld.com, statisticbrain.com

Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Lees ook op Huisgenoot.com

Dood eis ma van geliefde uilgesinnetjie

Pa deel foto van babadogter se toon om te waarsku teen gevaarlike toestand

Oorlewingswenke vir ouers

Kyk: Skud jou kop, skink ’n dop