’n Federale regter in Kanada kan dalk van die regbank verwyder word ná omstrede opmerkings wat hy tydens ’n verkragtingsverhoor in 2014 gemaak het.

Regter Robin Camp, wat in Suid-Afrika gebore is, het glo vir die beweerde slagoffer gevra hoekom sy nie net haar knieë kon toehou nie.

Nadat die 19-jarige vrou gesê het sy is oor ’n badkamer-wasbak by ’n huispartytjie verkrag, het Robin, toe ’n regter in die provinsiale hof, glo vir haar gevra hoekom sy nie “haar onderlyf skeefgedraai” of afgesak het om penetrasie te verhoed nie. “Hoekom kon jy nie net jou knieë bymekaar gehou het nie,” het hy volgens hofrekords gevra. Hy het verder gesê: “Jong vroue wil seks hê, veral as hulle dronk is. Soms gaan seks en pyn hand aan hand . . . dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.” Die 64-jarige regter het die beskuldigde vrygespreek.

“Ek wil hê jy moet vir jou vriende, jou mansvriende, sê hulle moet baie meer sagkens met vroue wees. Hulle moet baie geduldiger en versigtiger wees. Om hulself te beskerm, moet hulle baie versigtig wees.”

Daar is appèl teen die uitspraak aangeteken en ’n nuwe saak sal in November begin.

Intussen het ’n groep vroue-organisasies gevra dat die regter uit sy pos verwyder word oor sy opmerkings wat “’n weersin weerspieël teenoor wetgewing wat ontwerp is om die integriteit van kwesbare getuies te beskerm, en ook ontwerp is om die regverdigheid en doeltreffendheid van die regstelsel te handhaaf.”

Die regter het met sy getuienis voor die Kanadese Geregtelike Raad om verskoning gevra vir sy opmerkings. “Die persoon aan wie ek veral om verskoning wil vra, is die klaagster,” het hy in sy getuienis van drie uur gesê.

“Ek kan sien sy’s ’n brose mens. Haar agtergrond was nie maklik nie; haar lewe was nie malik nie. En ek was onbeskof en beledigend. Ek het verder ongelukkigheid onder ander mense veroorsaak, hoofsaaklik vroue en sommige mans wat seksueel mishandel is.

“Ek is jammer daaroor.

“Kanadese verdien beter van hul regters. Ek moet om verskoning vra vir die regbank. Ek het die rol van elke regter in hierdie land moeiliker gemaak en ek’s jammer daaroor.”

Robin se dogter, Lauren Camp, ook 'n slagoffer van verkragting, het glo van haar pa se opmerkings tydens daardie spesifieke hofsaak as "skandelik" bestempel. Maar sy bestempel hom ook as 'n sensitiewe mens. Sy het dit veral eerstehands ervaar nadat sy in haar eie huis verkrag is. "Hy was teleurgesteld omdat ek nie 'n klag wou lê nie, maar ek weet hy het verstaan hoe traumaties dit vir my sou wees om hof toe te gaan," het sy gesê. Sy is een van die 24 mense wat briewe ter ondersteuning van Camp aan die ondersoekpaneel geskryf het. Die ander briewe is geskryf deur kollegas, vriende, diegene wat 'n professionele verhouding met hom gehad het, asook 'n sielkundige wat een van sy hofsake rondom seksuele aanranding bygewoon het.

So is daar op Twitter reageer:

Bronne: cnn.com, globalnews.ca, cbcnews.ca