Die Twilight-sterre het vyf jaar uitgegaan nadat hulle mekaar in 2008 op die stel van die vampierdrama ontmoet het.

Hulle is in 2013 uitmekaar, maande nadat die aktrise se kortstondige verhouding met Rupert Sanders, die getroude regisseur van haar rolprent Snow White and the Huntsman, in 2012 op die lappe gekom het.

Die twee het ná die omstredenheid hul verhouding hervat, maar is in 2014 weer uitmekaar. En nou onthul Kristen dit was vir haar moeilik om die verhouding te hanteer, want dit het nie meer “eg” gevoel nie.

“Mense wou so graag hê ek en Rob moes weer bymekaar wees dat ons verhouding in ’n produk verander is,” het sy aan die New York Times se tydskrif, T, gesê.

“Dit was nie meer die regte lewe nie, en dit was aaklig. Dis nie dat ek wil wegsteek wie ek is of enigiets wil wegsteek wat ek in my lewe doen nie; dis dat ek nie vir vermaakwaarde deel van ’n storie wil word nie.”

Die 26-jarige aktrise hou vol sy verstaan die publiek se obsessie met haar privaat lewe, maar sy wil versigtig wees oor was sy aan die wêreld onthul.

“Ek is nie die deursnee-vertoonkunstenaar nie, maar terselfdertyd wil ek my baie graag blootstel,” sê sy.

“Ek wil verstaan en gesien word, en ek wil dit op die rouste, suiwerste, naakste manier moontlik doen.”

En haar begeerte om dit te doen, het gemaak dat sy openliker geword het oor haar romanse met haar meisie, Alicia Cargile.

“Ek sou voorheen nooit oor enige van my verhoudings gepraat het nie, maar toe ek met meisies begin uitgaan, het dit gelyk of daar ’n geleentheid is om iets baie positief weer te gee,” vertel sy.

“Ek wil steeds my persoonlike lewe beskerm, maar ek wil nie hê dit moet lyk of ek die idee beskerm nie, dus voel dit eintlik of ek mense iets skuld.”

© Cover Media