Rachel Thomas het die afgelope naweek die kompetisie by die Forest Showcase Food and Drink Festival in die suidweste van Engeland gehou. Dit was ’n treffer onder feesgangers, maar het diereregte-aktiviste in die harnas gejaag.

Deelnemers het 115 g fyngemaalde gryseekhoring-vleis gekry en moes hul verbeelding gebruik.

’n Inskrywing genaamd Cajun Melt het die eerste plek behaal en is gevolg deur Chicken of the Tree Surprise.

“Daar was oorgenoeg. Baie mense het dit kom proe en dit was baie smaaklik en is goed ontvang,” het Rachel, die organiseerder, aan AFP gesê.

Sy het die smaak beskryf as ’n kombinasie van hoender en konyn.

“As jy vleis eet, hoekom nie eekhoring nie? Lammers, hasies; dit is alles oulike diere. Ons verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie,” het Rachel gesê.

“Ons dink dit is ’n goeie voedselbron. Ons het besluit om mense op te voed hieroor; dis hoog tyd dat hulle ordentlik bestuur word.”

Pleks van hulle net vang en vergas, “moet ons hulle eintlik as ’n bron van kos gebruik”.

Die gryseekhoring is van 1876 tot 1929 uit Noord-Amerika Engeland toe gebring, maar hul bevolking is nou 66 keer groter as Engeland se inheemse rooieekhoring.

Eekhoringvleis is in sommige winkels te koop en party restaurante bied wel geregte met eekhoringvleis aan, maar die inname is minimaal en is steeds ’n spesialiteitsgereg.

’n Woordvoerder van People for the Ethical Treatment of Animals het gesê: “Ons winkels is propvol gesonde en heerlike graan, pasta, bone, rys, neute, vrugte, amandelmelk en sojapoedings.

“Ál meer Britte besef dit is nie net gawer keuses nie; dit is ook voedsamer as die lyke van eekhorings, perde of enige ander dier.”

- Sapa