Soos vigs, wat in die 20’s in Kinshasa ontstaan en daarna oor die wêreld versprei het, is Ebola in Sentraal-Afrika ontdek, is onlangs in ’n studie bevind. Die tropiese virus is genoem na die rivier in die Demokratiese Republiek van die Kongo waar dit in 1976 die eerste keer ontdek is.
'Tot dusver is vyf spesies geïdentifiseer.'

Tot dusver is vyf spesies geïdentifiseer (Zaïre, Soedan, Bundibugyo, Reston en Tai Forest). Eersgenoemde is die gevaarlikste; nege uit 10 mense met dié virus oorleef nie.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sterf net meer as twee derdes van mense met die siekte in die huidige epidemie. Die virus leef moontlik in die vlermuis, wat nie self die siekte opdoen nie. Sjimpansees, gorillas, ape, bosbokke en ystervarke het ook al Ebola aan mense oorgedra. Net een geval van gesertifiseerde kontak met ’n dier is in die huidige uitbreek aangeteken. Dit was vroeg in die uitbreek in Guinee, en daarna is dit onder mense oorgedra.

'Elke mens wat sedert Desember die siekte opgedoen het, het gemiddeld twee mense aangesteek.'

Al is dit hoogs aansteeklik, word Ebola moeiliker as ander siektes oorgedra. Elke mens wat sedert Desember die siekte opgedoen het, het gemiddeld twee mense aangesteek.

Ebola word oorgedra met aanraking met die bloed, liggaamsvloeistowwe, afskeidings of organe van ’n besmette mens, maar nie deur die lug nie.

Dié wat besmet is, is eers aansteeklik wanneer hulle simptome toon. Hulle word dan ál aansteekliker tot net ná hul dood, wat ’n groot risiko inhou tydens begrafnisse.

Ná ’n inkubasietydperk van tussen twee en 21 dae – volgens ’n Switserse studie is die gemiddelde tydperk vyf dae – ontwikkel die Ebola-lyer ’n hoë koors, swakheid, kwaai spier- en gewrigpyn, hoofpyn en keelseer. Braking en diarree, veluitslag, nier- en lewerversaking en interne en eksterne bloeding volg ook dikwels.

Omdat daar tans geen goedgekeurde behandeling is nie, word pasiënte in wese gerehidreer. Tog het ’n reeks eksperimentele behandelings onder verskeie pasiënte positiewe resultate getoon. Die bekendste is ZMapp, ’n kombinasie van drie enkelselantibiotikums wat die resultaat is van samewerking tussen Kanada en Amerika; na verwagting sal honderde dosisse teen einde vanjaar beskikbaar wees. Avignan, ’n teengriepmiddel wat die Japannese firma Toyama ontwikkel het, kan vinnig beskikbaar wees, maar sy doeltreffendheid teen die Ebola-virus is nog nie voldoende bewys nie. Toyama Chemical sê hulle het genoeg Avignan in voorraad vir meer as 20 000 mense. Twee entstowwe is deur die WGO as belowend bestempel en hul ontwikkeling is versnel. Dit is die Kanadese middel VSV-EBOV, waarvan daar vandeesweek 1 000 dosisse aan die WGO gestuur is, en cAd3-ZEBOV van die Britse farmaseutiese groep GlaxoSmithKline, wat na verwagting nie voor 2016 gereed sal wees nie.

'Ebola moet liefs voorkomend behandel word.'

Ebola moet liefs voorkomend behandel word, veral deur hande was en die gebruik van gel- of alkohol-gebaseerde ontsmettingsmiddels. Die vereiste prosedure is eenvoudig, maar moet deeglik gedoen word, en enigeen wat van blootstelling verdink word, moet bedag wees op simptome, veral koors.

Daar word voorgestel dat mense verskeie meter van besmette mense of lyke moet wegbly, en gesondheidswerkers moet weggooibare beskermende klere dra, insluitend maskers en handskoene. Plekke wat besmet is, moet ontsmet word.

Pasiënte moet eers met laboratoriumtoetse geïdentifiseer word omdat die simptome aanvanklik die simptome van ander siektes, soos malaria, naboots. Besmette mense moet afgesonder word.

Ebola-behandelingsentrums vereis aansienlike finansiële middele: Die WGO skat tussen 200 en 250 mediese personeel is nodig om ’n sentrum van 70 beddens veilig te beman.

Alle mense wat aanraking gekom het met ’n besmette mens, moet 21 dae noukeurig dopgehou word om te verseker dat hulle nie die siekte opgedoen het nie.

Die Verenigde Nasies het geskat sowat R11 biljoen is nodig om die siekte oor die volgende ses maande te beveg, maar tot dusver is net meer as ’n derde van daardie bedrag ontvang. Die geld is nodig om die getal beskikbare beddens teen 1 Desember van 4 300 tot 7 000 te vermeerder en om die nodige getal personeel te verskaf.