1976

Die Ebola-virus is die eerste keer uitgeken toe dit gelyktydig versprei oor twee streke aan die grens tussen Soedan en die destydse Zaïre, nou die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Die hemorragiese koors is genoem na ’n rivier in die gebied.

Die ergste uitbreking het 280 lewens in die DRK geëis van 318 bekende gevalle in daardie land. In Soedan het 151 mense uit die 284 aangemelde gevalle gesterf.

1995

Die virus duik weer op in die DRK, hierdie keer in die vorm van Ebola Zaïre. Van die 315 mense wat dit opgedoen het, is 254 oorlede.

Die epidemie se middelpunt was in die westelike Kikwit-streek.

’n Dokter het getuig dat ’n verpleegster dit opgedoen het net omdat sy ’n pas gestorwe slagoffer se oë toegemaak het.

2000/’01

Uganda word die eerste keer geraak toe die Ebola Soedan-virus verwoesting saai in twee dele van die land, hoofsaaklik die noordelike stad Gulu, maar ook die Masindi-distrik en die suidwestelike dorp Mbarara.

Tussen September 2000 en Februarie 2001 het die koors 224 van die 425 geïnfekteerdes se lewe geëis.

2001/’02

In Gaboen het die Ebola Zaïre-virus tussen Oktober 2001 en Mei 2002 in die noordoostelike provinsie Ogooue-Ivindo versprei, waar 53 van die 65 aangemelde gevalle noodlottig was.

Dit was die vierde keer dat hierdie ylbevolkte ekwatoriale streek geraak word; die virus het ook 44 mense in die aangrensende Republiek van die Kongo se lewe geëis.

Vorige uitbrekings in Gaboen, een in 1994 en twee in 1996, het sowat 100 mense geëis.

2003

Die Ebola Zaïre-virus het die Republiek van die Kongo weer tussen Januarie en April getref. Van die 143 geïnfekteerdes het 128 gesterf, ’n sterftekoers van 90 persent.

Die virus was veral skadelik in die westelike Cuvette-Ouest-streek, naby die grens met Gaboen, onder dié wat die karkasse van gorillas en sjimpansees hanteer het wat weens die virus gevrek het.

In Oktober 2003 het nog ’n uitbreking van dieselfde spesies meer as 29 lewens geëis.

2007

Dit was weer die Ebola Zaïre-vertakking wat in die DRK uit altesaam 264 gevalle 187 lewens geëis het. Die hemorragiese koors het hoofsaaklik tussen April en Oktober in die Kasai-streek toegeslaan.

Die virus het die DRK in 2008 en 2012 getref en 73 mense se lewe geëis.

2014

Ebola het die eerste keer in Wes-Afrika voorgekom; eers in Guinee, toe in die buurland Liberië en Sierra Leone voor dit in Nigerië aangemeld is.

Uit meer as 2 600 bekende gevalle het die epidemie meer as 1 427 lewens geëis, berig die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Die DRK beleef ook nou in Augustus hul sewende uitbreking, maar die gesondheidsminister sê dit is afsonderlik van die epidemie in Wes-Afrika.