In ’n land waar daar die afgelope jaar 2,1 miljoen misdade aangeteken is, is die kans immers groot.

Na afloop van die bekendmaking het die minister van polisie, Nathi Nhleko, ’n praatjie aangebied oor die sosiologiese sy van misdaad om Suid-Afrikaners te help verstaan wie misdade pleeg, waar dié misdade voorkom, wanneer en waarom.

Hier is wat jy moet weet.

Daar is slegte nuus vir pendelaars:

As jy trein of taxi ry of van ander openbare vervoer gebruik maak, is jou kans om onder misdaad deur te loop ongelukkig groot. Veral taxi-verwante moorde het die afgelope jaar toegeneem – 190 mense het die laaste jaar daarvan gesterf.

Mense wat vroeg soggens en laat saans bushaltes of treinstasies besoek of soontoe loop, is ook deesdae van die algemeenste diefstalslagoffers, veral as hulle ’n selfoon of skootrekenaar by hulle gehad het, het die polisie ook gesê. As dié plekke in groot stede is, soos die stadskom, is die kans glo selfs groter.

Myne en messe kan jou dood beteken:

Moord het vanjaar met 4,9 persent toegeneem en 3,5 persent van dié moorde was veelvoudige moorde (waar meer as een mens op die toneel gesterf het). As jy in ’n gemeenskap woon wat graag eiereg gebruik en self misdadigers vastrek, is die kans op moord ook groter; 34 van die afgelope jaar se moordslagoffers het aan die hand van hul eie gemeenskap gesterf.

Dié van ons wat naby myndorpe woon, is ook nader aan ’n misdaadprobleem, want die uitmoor van onwettige mynwerkers is ook aan die toeneem en kom veral in die Vrystaat, Gauteng en Noordwes voor.

In die Wes-Kaap lei veral bendegeweld tot moord; ’n volle 13,4 persent van hierdie provinsie se sterftes was weens bendes.

Jou kans om met ’n mes om die lewe gebring te word is boonop groter as dié dat ’n vuurwapen jou lewe gaan eis; net 32,1 persent van moorde was met vuurwapens terwyl 36,3 persent met messe was.

Lees ook: Nuwe misdaadsyfers bekend – en daar is goeie en slegte nuus

Tog is vuurwapens gewilder in Gauteng en in die Wes-Kaap en word vuurwapens in die meeste provinsies gebruik vir huisbrake en huisrooftogte. Die algemeenste besittings wat dan gebuit word, is elektroniese toebehore, TV’s, rekenaars, juwele en kruideniersware.

Altesaam 60,9 persent van moordenaars is werkloos. Die heel grootste oorsaak van moord is ’n stryery of misverstande – 58,9 persent van moorde het hieruit gespruit. Die res van die moorde was grotendeels weens ander misdade, soos diefstal of rooftogte. Wanneer argumente en rusies tot misdaad lei, is dit ook algemeen dat motors (27,1 persent), meubels (3,3 persent) en telefone (2,7 persent) in die proses beskadig word.

Van die polisiekantore wat hul hande vol het met moordklagte, sluit in Nyanga, Kraaifontein en Khayeltisha in die Wes-Kaap, sowel as Inanda en Umlazi in KwaZulu-Natal en Bethelsdorp in die Oos-Kaap. Dié polisiekantore het die meeste moorde aangemeld.

Dis wyser om jou struike te snoei:

Huisbrake is glo algemener by huise met digte bosse en plante voor die deure en vensters of waar straatligte nie helder skyn nie. Die gewildste manier om toegang te bekom is deur die deur af te skop, soos in 42,3 persent van gevalle.

Die algemeenste nie-residensiële plekke wat beroof word, is casino’s, kroeë en winkels. Klein spaza-winkels en kleinhandelaars is in 22,8 persent van gevalle die teiken. In 83,8 persent van hierdie gevalle was kontant die diewe se oogmerk. Selfone en lugtyd was ook gewild, sowel as sigarette en drank.

Daar is ongelukkig min goeie nuus vir boere:

Veediefstal is landwyd met 1 persent af, maar is steeds ’n probleem in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Mpumalanga. Ongelukkig loop boere se toerusting ook deur en moet veral dié in Gauteng en KwaZulu-Natal byna daagliks waterpype en kabels vervang.

Misdaad agter toe deure word moeilik bekamp:

Huishoudelike geweld speel dikwels agter toe deure af – ’n area waar die polisie dit nie so nou kan monitor nie. Dit lei ook gereeld tot gepaardgaande verkragting of moord. Altesaam 55 slagoffers het die afgelope jaar weens huishoudelike geweld gesterf.

Ook verkragtings en seksuele misbruik gebeur dikwels binnenshuis – en onder kinders gereeld deur gesagsfigure binne die gemeenskap. In die Noord-Kaap was 64,7 persent van verkragtings byvoorbeeld in iemand se huis.

Wanneer dit wel buite gebeur, is dit normaalweg op oop stukke grond of veld of langs paaie.

Lees ook: Dié maatreëls maak jou huis veiliger

Mense ken hul misbruikers:

Die meerderheid seksuele misdadigers is bekend aan hul slagoffer. Onder algemene soorte mense tel werkgewers, ekskêrels en skoolpersoneel. In die Noord-Kaap in 2016 het ’n hele 86,4 persent van slagoffers hul misbruiker geken.

Alkohol is ’n sondaar:

In Mpumalanga was alkoholmisbruik by ’n volle 73 persent van pogings tot moord ’n faktor. By seksuele misdade het alkoholgebruik onder slagoffers sowel as oortreders voorgekom.

Sowat 25 persent van verkragters in KwaZulu-Natal was onder die invloed van drank en van die algemeenste plekke waar verkragtings plaasgevind het, is buite kuierplekke of langs paaie wat na kuierplekke lei.

Ook mense wat kuierplekke aangeklam verlaat, was van die meer algemene landwye slagoffers van diefstal, veral wat hul selfoon, kontant en juwele betref.

Aanranding of roof met die doel om ernstig te beseer was ook meer algemeen by plekke waar alkohol verkoop word, soos in die Vrystaat, waar alkohol glo tot 29 persent van alle aanrandingsklagte gelei het.

Afleweraars moet benoud wees:

Motorkapings as ’n geheel is met ’n skrikwekkende 14,3 persent op, maar dis veral vervoer- en afleweringsvoertuie wat deurloop. Die tabakreus British American Tobacco, wat sigarette vervaardig, word glo voortdurend geteiken en trokdrywers is ook kwesbaar. In Gauteng is 63,9 persent van motors en motorfietse in besige stede gesteel.