Anton sê sy liedjie Jantjie, wat veral deur Sonja Herholdt gewild gemaak en onlangs deur Karen Zoid en Emo Adams gesing is, het nooit vir hom enige tantieme opgelewer nie.

Maar hy gee nie soos Gert Vlok Nel die kunstenaars wat sy liedjie sing die skuld nie. Nuwe lig is op die tantiemestelsel en die kopiereg van liedjies geplaas toe Gert Vlok Nel uitvaar teenoor Theuns Jordaan, wat sy liedjie Beautiful in Beaufort-Wes sing. Gert voer aan hy het nie ’n sent vir die uitvoering en opname van dié lied gesien nie.

Anton sê op sy beurt: “Ek het destyds toe ek die liedjie geskryf het ’n jong uitgewer geken. Ek moes die liedjie publiseer om dit wettig te maak.”

Liedjies moet by die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie, Samro, geregistreer word. Dié liggaam sorg dat alle tantieme wat deur optredes, radio-speeltyd en opnames deur ander kunstenaars verdien word aan die uitgewers betaal word. Dit is die uitgewer se plig om seker te maak die kunstenaars wat by hulle ’n kontrak het, ontvang hul tantieme. Volgens Anton het die uitgewer gevou en hy het nooit die tantieme vir die liedjie ontvang nie.

“Ek het later by Gallo-musiekuitgewers aangesluit. Nadat hulle die katalogus oorgeneem het, het ek tantieme ontvang vir die meeste van die opnames deur Sonja.”

Volgens Anton is daar verskeie grys areas wat die stelsel betref.

“Party ouens verkies om self hul liedjies uit te gee, maar jonger kunstenaars wat sukkel om by groot uitgewers geteken te word gaan vir die fly-by-night-uitgewers. Dit is dié soort jong uitgewers wat veroorsaak dat jy nie jou tantieme sien nie.”

Volgens Anton is dit beter om met groot uitgewers soos Gallo, Universal en Sony ’n ooreenkoms te sluit.

“Hulle weet hoe die stelsel werk en het prokureurs wat sorg dat jy jou tantieme kry as jy agterkom iemand gebruik jou liedjie onregmatig.”

Anton sê hy het al in die verlede ’n DVD uitgeneem en besef daar is twee liedjies op die klankbaan wat hy geskryf en nooit tantieme voor ontvang het nie.

“Dit gebeur gereeld dat jou liedjie gespeel of gebruik word sonder dat jy dit eens weet. Dit is die uitgewer se verantwoordelikheid om ondersoek in te stel.”