1 minuut 53.28 sekondes. Dié huidige wêreldrekord in die 800 m vir vroue is beslis binne Caster Semenya se bereik, sê die sportkommentator Arnold Geerdts.

“Caster moet net haar sielkundige hekkie oorkom,” sê Arnold. “Fisiek is daar niemand wat Caster kan klop nie. Dit is net daardie sielkundige aspek wat haar kan terughou. Vier jaar gelede by die Olimpiese Spele in Londen was Caster in die posisie om goud te wen. Sy het bloot stadiger gehardloop, wat wys alles wat met haar gebeur het, plaas groot druk op haar. Caster het alles gedoen wat van haar verwag is. Sy het selfs die hormoonbehandeling gekry – wat nie maklik kon wees nie. Daar is niks meer wat sy kan doen nie. As sy net kan vergeet van alles en almal en net hardloop, is die wêreldrekord binne haar bereik.” Lees ook: #Rio2016: Los vir Caster uit!

Die wêreldrekord vir die 800 m vir vroue is in 1983 by ’n wêreldbyeenkoms opgestel deur Jarmila Kratochvilova (nou 65) van Tsjeggië. Volgens Arnold het Jarmila “soos ’n man gelyk en soos ’n man gehardloop, meer as wat ek nog in my lewe gesien het”. Kyk die video van Jarmila se wêreldrekord:

Verlede maand by die Diamantliga-byeenkoms in Monaco het Caster die afstand in 1 minuut 55.33 sekondes afgelê. Dit is die vinnigste tyd ter wêreld die afgelope agt jaar. Dit is ook haar persoonlike beste tyd in dié item.

Kyk die video van Caster se persoonlike beste tyd:

Sal Suid-Afrika se goue meisie dit weer kan doen? Kyk vanmiddag om 15:55 op SuperSport4 na die uitdunne vir die 800 m vir vroue.

Caster se familie het ook ’n oulike video gemaak waarin hulle haar voorspoed toewens: