1. Tydens die Ystydperk was die pole toe onder ys en sneeu en dit was so koud dat niks daar kon oorleef nie. Die pole het ook baie verder gestrek as wat ons dit vandag ken – groot dele van Kanada, Amerika en Noord-Europa was onder sneeu. Die sneeu by Antartika het ook baie verder gestrek as vandag. Sowat 30 persent van die aarde se oppervlak was met sneeu bedek teenoor minder as 10 persent vandag.
  2. Daar was ook baie meer gletsers op aarde tydens die Ystydperk as wat daar vandag is. Party van die gletsers was so groot soos kontinente en het groot dele van die aarde bedek. Hulle het ook die landmassas verander deur erosie. Aangesien so baie water in gletsers vasgevang was, was die oseaan se vlakke tot 125 m laer as wat dit vandag is!
  3. Daar was minder vloeibare water tydens die Ystydperk as wat daar vandag is. Toe was daar baie minder reën en baie meer gletsers en dus min vloeibare water op die aarde se oppervlak.
  4. Dit was natuurlik baie kouer tydens die laaste Ystydperk as wat dit vandag is. Die gemiddelde temperatuur op aarde was tussen 5 en 10 °C kouer as vandag.
  5. Daar was ’n baie groter temperatuurverskil tussen die pole en die ewenaar. Hoe kouer die pole was, hoe warmer was die ewenaar. Wanneer die aarde nie in ’n ystydperk is nie, is hierdie verskil baie kleiner.
  6. Die groot hoeveelhede ys en sneeu het beteken die aarde het baie meer sonlig weerkaats as vandag. Pleks van die son se lig absorbeer, word dit weer in die ruimte weerkaats en dit dra natuurlik by tot die kouer temperature.
  7. Tydens die ystydperke was daar baie minder reën as wat ons vandag ken – dit kon tot 50 persent minder wees.
  8. Die wind het baie meer gewaai as vandag. Daar was ook baie meer stofstorms omdat die wind baie stof by die vergrote woestyne en gletsers opgetel het.
  9. Die soogdiere wat tydens die Ystydperk geleef het, was baie groter en het baie meer hare gehad as wat ons soogdiere vandag het. Hierdie kenmerke het beteken hulle kon die bibberende temperature oorleef. Wetenskaplikes het hierdie soogdiere megafauna genoem en dit het diere soos die harige mammoet, sabeltandtier en die reuswolf (soos in die gewilde reeks Game of Thrones) ingesluit.
  10. Die mense het tydens die Ystydperk baie anders geleef as vandag. Hulle het in jagterversamelaarsgroepe gewoon, in skuilings van mammoetbene gewoon en klere van dierepels gedra. Hul jaggereedskap het hoofsaaklik uit klipmesse, pyle en spiese bestaan en hulle sou dikwels ’n groot dier jag deur hom in ’n lokval te lei en dan daar te oorrompel.

Moenie Huisgenoot se Ice Age-uitstalling misloop nie. Vir meer inligting en om kaartjies te koop, klik hier.

Bronne: SCRIPPS.UCSD.EDU; PBS.ORG; LIVESCIENCE.COM; BBC.CO.UK; GEOLOGY.UTAH.GOV; WIKIPEDIA.ORG; DYNAMICAL PALEOCLIMATOLOGY; GENERALIZED THEORY OF GLOBAL CLIMATE CHANGE (2002, BARRY SALTZMAN)