Kos

Slim padkos is die sleutel tot ’n makliker reis. Lorisha Sing, ’n dieetkundige van Durban, sê dis belangrik om van suikerryke kosse weg te bly, veral vir jonger kinders. Sy het dié raad:

  • Pak vir die kleingoed kos in wat nie hul hande en monde sal taai maak nie.
  • Toebroodjies is altyd ’n goeie idee. Dis maklik om te verpak en vullend. Pasop net vir morsige souse en strope.
  • Neute en sade is ’n gesonde peuselhappie en ideaal vir tussenin-maaltye.
  • As jy soetgoed gaan inpak, oorweeg ’n lekkergoedstring. Dit sal jou kind langer vermaak as ’n gewone sjokolade of lekker.

Hou orde

Die pad is korter as jy beheer het oor wat in die motor gebeur. Hou ’n vullissak byderhand vir rommel en sorg dat jy nat lappies het om taai hande en gesigte mee af te vee.

“Waar ouer kinders eerder verveeld raak in ’n kar, is babas en kleuters se behoeftes meer fisiek,” sê Lomé Koekemoer, ’n sielkundige van Randburg. Dit maak hulle onrustig en huilerig as hul basiese behoeftes nie bevredig word nie.

“Sorg daarom dat jy jou baba gereeld voer, warm of koel genoeg aantrek en sy doeke gereeld omruil, en probeer jou rit by jou baba se slaappatrone inpas sodat hy in die motor kan slaap.”

Speletjies

Jong kinders word maklik met speletjies besig gehou. Probeer aaispaai, of naam, van, dier, dorp:

  • Aaispaai: Elke lid van die gesin kry ’n beurt om iets wat hulle langs die pad raakgesien het, te kies en die res van die gesin moet raai wat dit is deur jou kind se leidrade te volg.
  • Naam, van, dier,dorp. Kies ’n letter; die een wat eerste ’n naam, van, dier en dorp kan opnoem wat met dié letter begin, wen.
  • Beloon goeie gedrag. Om jou kinders te prys as hulle soet is, sal hulle aanspoor om die res van die rit ook stil en rustig te wees.

KLIK VIR NOG OULIKE SPELETJIES IN DIE MOTOR

Tieners

“Tieners smag daarna om onafhanklik te voel,” sê Lomé. “Daarom moet jy nie jou tienerkind dwing om deel te neem aan iets waarin hy nie belangstel nie.” Sy stel voor jy los jou tiener in vrede as hy net musiek met sy oorfone wil luister.

Betrek hulle by die reis

“Dit is in jong kinders se aard om nuuskierig te wees,” sê Lomé. “Hou hulle besig en maak die rit opwindend.” Laat jou kind die roete wat julle ry, vooraf help uitwerk. Gee hulle vooraf ’n padkaart en laat hulle help beplan hoe laat julle waar moet wees. Dit sal hulle nie net voor die rit iets gee om te doen nie, maar gedurende die rit sorg vir opwinding.

Laat die kinders ’n lys maak van plekke wat julle langs die pad kan besoek. Dit kan werk vir laerskool- en ouer kinders. Wys hulle hoe om vooraf toeristeaantreklikhede op die internet te soek.

Hou hulle besig

Vir kleintjies is speelgoed ideaal. Enigiets magneties werk maklik, want die speelgoed kan nie rondval nie. ’n Eenvoudige teddiebeer, pop of speelgoedkarretjies werk ook goed. Kinders van laerskool af en ouer sal dit geniet om met ’n digitale kamera foto’s te neem en jul rit te dokumenteer. Draagbare elektroniese speelgoed soos Game Boy en PlayStation werk ook goed.

Musiek en DVD’s

“Musiek is die beste oplossing vir tieners,” sê Lomé. Hulle kan hul gunstelingmusiek op hul selfone of draagbare musiekspelers laai.

-Mieke Vlok

Ekstra brone: Adventure.howstuffworks.com, BABBLE.COM

ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot