.

Elke dag klim daar wêreldwyd 8,3 miljoen mense – min of meer die bevolking van die stad New York – op ’n vliegtuig. Hulle land amper altyd veilig. Maar party vlugte is veiliger as ander. Die ongeluksyfer in Afrika is byvoorbeeld vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde, volgens die Internasionale Organisasie vir Burgerlike Lugvaart (ICAO), deel van die Verenigde Nasies. Sulke probleme gebeur ook waar lugreis die vinnigste groei, wat die getal lugreisigers binne die volgende 15 jaar kan laat verdubbel.

'In party dele van die wêreld gaan daar ’n leerkurwe wees.'

“In party dele van die wêreld gaan daar ’n leerkurwe wees,” sê Patrick Smith, ’n kommersiële vlieënier met 24 jaar ervaring en die skrywer van Cockpit Confidential. Maar dit beteken nie noodwendig die lug gaan gevaarliker word nie. “Ons het reeds die volume vliegtuie en passasiers verdubbel, en dinge het veiliger geraak.”

Om die instroming van passasiers te hanteer, moet lugrederye genoeg gekwalifiseerde vlieëniers en werktuigkundiges aanstel. Regerings moet veiligheidsregulasies ontwikkel en toepas. Nuwe aanloopbane met ordentlike navigasiehulpmiddels moet gebou word.

Kundiges in die bedryf erken die probleme, maar dui daarop dat lugvaart vantevore baie gegroei het en dit steeds reggekry het om veiligheid te verbeter.

Dubbel die totaal as in 1999

Verlede jaar het 3,1 biljoen passasiers gevlieg, dubbel die totaal in 1999. Maar die kans om in ’n vliegtuig te sterf was baie laer. Sedert 2000 was daar minder as drie sterftes per 10 miljoen passasiers, is daar in ’n ontleding van ongelukdata bevind wat die Associated Press van die lugvaart-konsultasiediens Ascend gekry het. In die 90’s was daar byna agt sterftes, en die 80’s was daar 11 en die 70’s het 26 sterftes per 10 miljoen passasiers gehad. Die laaste twee weke was sleg vir lugvaart; ’n vliegtuig van Malaysia Airlines is afgeskiet en daar was vliegongelukke in Taiwan en Mali. Maar die seldsame trio van tragedies verteenwoordig net ’n breukdeel van die 93 500 daaglikse vlugte wêreldwyd.

'Lugvaartveiligheid raak gedurig beter.'

“Lugvaartveiligheid raak gedurig beter. ’n Skielike vlaag ongelukke beteken nie die bedryf het minder veilig geword nie,” sê Paul Hayes, Ascend se direkteur van lugveiligheid.

Soos inkomstes oor die wêreld heen styg, wil mense in Suidoos-Asië, Latyns-Amerika, Indië en China meer reis. Die vliegtuigvervaardiger Airbus sê terwyl verkeer in Amerika met 2,4 persent per jaar groei, sien ontluikende lande ’n jaarlikse groeisyfer van 13,2 persent.

In daardie lande is vlieg dikwels die enigste opsie; stede is ver verwyder en voldoende paaie of spoorlyne bestaan nie altyd ??nie. Nuwe lugrederye het ontstaan wat bekostigbare vlugte bied wat in hierdie groeiende behoefte voorsien.

Hierdie diensverskaffers – baie van hulle onbekend buite hul gebied – voeg nuwe vliegtuie teen ’n vinnige tempo by. In die volgende ses jaar gaan Indonesië se Lion Air 265 nuwe vliegtuie kry en Indië se IndiGo gaan 125 ontvang, sê Bank of America.

“As ’n lugredery vinnig uitbrei, kan die uitdaging om nuwe personeel te kry en hulle behoorlik te laat saamwerk, risiko’s verhoog,” sê Paul.

Die vliegtuigvervaardiger Boeing skat die bedryf gaan binne 20 jaar 498 000 nuwe kommersiële vlieëniers en 556 000 nuwe instandhoudingstegnici nodig hê. Dit gaan nie maklik wees om genoeg geskoolde werkers te vind om daardie gaping te vul nie.

Sherry Carbary, die adjunkpresident van Boeing Flight Services, sê daar is ’n “dringende behoefte aan bevoegde lugvaartpersoneel”.

“Dit is ’n wêreldwye probleem, wat samewerking en innoverende oplossings van die hele bedryf vereis,” sê sy.

Lee Moak, president van die Air Line Pilots Association, Amerika se grootste vakbond vir vlieëniers, voeg by dat sterk toesig deur regerings en ??handelsgroepe nodig is om behoorlike opleiding te verseker.

“As jy nie ’n veilige diens bedryf nie, gaan jy nie klante het nie,” sê Lee.

Lande moet ook in die regte infrastruktuur belê. Daar moet behoorlike radardekking, aanloopbaan-landingsligte en bakens wees, asook vaardige brandweer- en reddingspanne by lughawens wees, sê Todd Curtis, die direkteur van die Airsafe.com-stigting.

Ontwikkelende gebiede het ook tans nie genoeg lughawens waarheen vliegtuie in noodgevalle herlei kan word nie, voeg hy by.

En wanneer daar ’n ongeluk met oorlewendes is, help dit wanneer daar hospitale met gevorderde traumasentrums nabygeleë is.

Volgens Boeing het byna ’n derde van alle ongelukke sedert 1959 waar die vliegtuig verwoes is steeds geen sterftes gehad nie. Tegnologiese verbeterings help ook die ongeluksyfer laag hou.

Kajuite het nou stelsels wat die vlieënier outomaties waarsku as die vliegtuig te laag is of ’n berg of ander vliegtuig gaan tref. Ander tel skielike vlae wind op wat die landing onveilig kan maak.