Dit is baie moeilik om oor die dood te praat, veral as jy self ook rou. Of dit nou ’n troeteldier of ’n grootouer is, kan dit kinders baie help om verlies te verwerk as hulle sien ander mense het dit ook al ervaar.

Vermy figuurlike taal soos: “Ons het vir oupa verloor.” Wees eerder direk, maar probeer ’n vergelyking tref wat jou kind sal verstaan. Een ouer het dit byvoorbeeld so aan haar kleuters verduidelik: “Wanneer mense oud raak, hou hul liggaam op met werk, nes ’n speelding wat se battery pap geword het. Maar met mense kan jy nie die battery omruil nie.”

Vermy ook liewer: “Ouma het gaan slaap.” Jou kleuter sal dan verwag dat ouma wakker moet word, en wanneer dit nie gebeur nie, kan hulle dalk ’n vrees ontwikkel om te gaan slaap. Maak ook seker jou kind verstaan ouma, of selfs ’n boetie of sussie, se dood is nie hulle skuld nie.

Ouer kinders sal dalk meer feite wil hê oor wat gebeur het. “Wat is kanker? Hoe het oom Piet se motorongeluk gebeur?” is vrae wat jy kan verwag. Weereens is die beste benadering om eerlik te wees, maar vermy dit om te veel detail te deel wat dalk grusaam is en jou kind kan bangmaak.

Probeer gerus dié boeke wanneer jy met jou kind oor die dood moet gesels:

  • Net perfek deur Rachelle Greeff.
  • My ouma is hemel toe deur Alex J. Foxhall.
  • The fall of Freddie the leaf deur Leo Buscaglia.
  • What’s Heaven deur Maria Shriver.
  • Saying goodbye to Lulu deur Ard Hoyt.
  • Gooi vir my ’n soentjie Juffrou Lill deur Nancy White Carlstrom.

- Shané Barnard

Bronne: mommyshorts.com, ahaparenting.com, yourparenting.co.za, parents.com, webmd.com