Ons troeteldiere word nie teen dieselfde tempo as ons oud nie. Daar is ’n akkurater formule om jou hond of kat se ouderdom in mensjare uit te werk.

Die meeste mense bereken hul troeteldiere se ouderdom in mensjare deur hul ouderdom met sewe te maal – ’n eenjarige hond of kat sal byvoorbeeld dus sewe jaar oud wees. Maar die syfers klop nie regtig nie – sewejarige kinders kan nie voortplant nie, terwyl honde en katte op eenjarige ouderdom kan kleintjies kry. En hulle kan dit tot op 10 jaar doen – beslis nie die geval met 70-jarige vroue nie.

468-X-60-HG

Bereken jou hond se ouderdom

Groot honderasse is geneig om ’n korter lewensduur te hê en wanneer hulle vyfjarige ouderdom bereik, word hulle reeds as senior honde beskou. Mediumgroot rasse bereik hul senior fase ná sowat sewe jaar en klein rasse en skoothondjies is eers op 10 volwasse honde. ’n Hond se gemiddelde lewensduur is 12 of 13 jaar, maar dit hang van die ras af.

Groter rasse het oor die algemeen ’n korter lewensduur. Veroudering gebeur vinniger tydens ’n hond se eerste twee jaar en die meeste veeartse is dit eens dat dít die beste manier om jou troeteldier se ouderdom in mensjare te bereken: Aanvaar dat ’n eenjarige hond 16 en ’n tweejarige hond 24 jaar oud in mensjare is. Voeg dan vyf jaar by elke jaar wat daarop volg. Kyk na die nuttige tabelle om jou berekening na te gaan.

hondouder

Katte verskil ’n bietjie

Kom ons kyk na die formule om katte se ouderdom in mensjare te bereken. Katte leef gewoonlik 12 tot 15 jaar, hoewel katte wat buite leef gemiddeld sowat 10 jaar leef. ’n Eenjarige kat is 15 jaar oud en ’n tweejarige kat is 24 jaar oud in mensjare. Voeg dan vier jaar by elke jaar wat daarop volg. Voorbeeld: ’n Vierjarige kat is 32 jaar oud in mensjare.

Wenke vir eienaars van ouer troeteldiere

Eienaars ken hul honde beter as enigeen en jy moenie huiwer om beduidende veranderinge onder jou veearts se aandag te bring nie. Veranderinge in eetlus, gewig, waterinname, urinering of ontlasting moet ondersoek word vir onderliggende oorsake en sodat potensiële behandelings bespreek kan word.

Hoewel dit te wagte is dat hulle stadiger sal word, moet ouer honde ook ’n gehalte-lewe en sterk band met hul eienaars geniet. Onthou, oud word is nie ’n siekte nie!

BRONNE: petsadviser.com, harmonypet.com, www.guinnessworldrecords.com