Twintig deelnemers staan op ’n boot. Die boot is in die middel van die Suid-Chinese see. En hulle gaan ampertjies begin met een van die grootste uitdagings van hul lewe: Survivor South Africa: Champions.

Gister het ’n handjie vol joernaliste die geleentheid gekry om die heel eerste episode van die gewilde M-Net-werklikheidsprogram te kyk. Ek het self op daardie eiland saam met ’n paar joernaliste my hand aan oorlewing gewaag en amper misluk.

Soos ek die senutergende episode kyk, begin my handpalms sweet. Ek weet hoe dit voel om te verloor. Ek weet hoe liggaamlik uitputtend van die uitdagings is. Ek het al eerstehands ervaar hoe deelnemers konkel en hoe uiteenlopende persoonlikhede saam in een span moet werk. Die een oomblik wil ek huil; die volgende lag.

Survivor South Africa: Champions gaan ons vasgenael hou aan die kassie. Die verskil tussen die twee spanne, met die oud-Springbok Corné Krige (38) en die gewese Bafana Bafana-sokkerspeler Mark Fish (39) as stamkapteins, bring ’n aangrypende dinamiek na die program.

Die eerste episode laat ’n mens wonder: Gaan van die deelnemers die rol van spankaptein probeer vervul? Hoe belangrik is liggaamskrag teenoor breinkrag? Watter deelnemers gaan die grootste moeilikheid maak? En wie gaan seëvier?

[post-slider]

Na aanleiding van my ervaring op die eiland, is hier ’n kort Survivor-oorlewingsgids:

  • Bou ’n skuiling en maak seker dit gaan jou beskerm teen alle elemente, van die skroeiende son tot die deurdringende reën.
  • Maak dadelik ’n vuur en versamel baie hout.
  • Leer ’n rot eet en sy vel afskil. Hykie Berg, die wenner van  Survivor Maledive in 2011, kan jou raad gee. Hy het vier rotte geëet toe hy op die eiland was.
  • Weet wanneer ’n kokosneut ryp is. Wanneer daar geen melk of vleis in is nie, is dit rou. Wanneer die melk suur is, is dit oorryp.
  • Weet wie jou vriende is en hou jou vyande op ’n afstand. Kry een mens wat jy ten volle vertrou.

Die reeks begin Sondag 19 Januarie om 17:30 op M-Net. Daar is 18 aflewerings en elkeen is ’n anderhalf uur lank. Besoek http://survivorsa.dstv.com vir meer inligting.