Dan is daar ook nog die ekse wat in ag geneem moet word. Dit kan ’n slagveld wees.

Navorsing in Brittanje toon een uit elke drie kinders daar word groot in ’n huis waarin een ouer nie hul biologiese pa of ma is nie. Suid-Afrika se syfer is nie beskikbaar nie, maar stiefma’s en -pa’s of stiefboeties en -sussies is geen vreemde verskynsel nie.

Bertia Brady (33) van Kaapstad het so ’n saamgestelde gesin. Sy en haar eksman het ’n sewejarige dogtertjie, Beth. Maar albei het ná hul egskeiding nuwe liefde gevind. Bertia is verloof aan ’n man met twee kinders uit ’n vorige verhouding. Haar eksman is vier jaar gelede getroud met ’n vrou wat ’n seuntjie het; intussen het hulle nog drie babas ryker geword.

Tussen die vier ouers maak hulle nou sewe kinders groot. Dié verskynsel staan as mede-ouerskap bekend. “Solank die ouers die kinders se belange vooropstel, sal alles reg uitwerk,” sê Christof Sharp, stigter van CoParenting Suid-Afrika. Bertia beaam dit. “Egskeiding is lelik en moeilik, maar ons is die grootmense,” sê sy. “Iets is net ’n probleem vir ’n kind as grootmense dit ’n probleem maak.” Die ervaring het haar belangrike lesse geleer. Hier is haar en nog kenners se raad:

  • “Moenie jou eksman voor jou kinders afkraak nie,” sê Bertia. “Jou nuwe maat mag ook nie.” Dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion, sê: “As hy of sy neerhalend na jou eks verwys, plaas dit hulle dadelik in ’n vyandige posisie, want hulle sal nooit die kind se biologiese ouer wees nie. As jy ’n pyl na jou eks se hart skiet, gaan dit deur jou kinders s’n.”
  • As jy kinders uit verskillende verhoudings aan mekaar gewoond wil maak, gebruik sosiale media soos WhatsApp en Facebook om hulle aan die begin te help om mekaar beter te leer ken, sê Christof.
  • “Ek probeer so dikwels moontlik saam met my eksman, sy nuwe vrou en al die kinders kuier,” vertel Bertia. “In ons huis hang troufoto’s van (haar dogtertjie) Beth se pa en sy nuwe vrou, en daar is hope foto’s teen die muur van al die boeties en sussies.”
  • Betrek jou eks en sy nuwe gesin by belangrike mylpale, voeg Bertia by. “Foto’s van klein Beth se tande wat wissel, word dadelik gedeel met haar pa én stiefma. Dit verg spanwerk.”
  • Wat dissipline betref, moet jy as stiefouer versigtig wees om te vinnig jou stiefkinders vas te vat, sê Maryna Johnson, ’n sielkundige van Bellville. “Daar moet eers ’n sinvolle verhouding wees voor jy dissiplineer,” sê sy. Onthou dissipline kan van huis tot huis verskil. Moenie jou benadering afdwing nie. Dit is belangrik dat jy en jou lewensmaat as ’n span hieroor besluite neem en dit liefs saam aan die kinders oordra.
  • Veral by jonger kinders is dit nie wys om te vriendskaplik te wees met jou stiefkind nie, sê Hermann. “Jy bly ’n ouerfiguur, al is jy nie die biologies ma of pa nie.”
  • Moenie alles wat ’n stiefkind sê persoonlik opneem nie, sê Maryna. “Onthou, hulle verwerk ook die veranderinge en hul eie seer. Kinders wys dikwels hoe hulle voel deur hul gedrag.”

- Pieter van Zyl