’n Bekommerde ma in ons Facebook-gemeenskap het onlangs raad gevra oor haar seun, wat baie huil. Die seuntjie is tans in gr. 2. Sy skryf: “Ek kom pas van ’n oueraand by my seun se skool. Hy vaar redelik goed, maar die onderwyser het genoem dat hy baie in die klas huil. Dit is nie die eerste keer dat ek so iets hoor nie. Hy huil by die skool en by die huis oor klein goedjies – en raak baie kwaad wanneer hy nie sy sin kry nie. Ek wil dit nie net so laat nie. Moet ek ’n kindersielkundige spreek om uit te vind hoekom hy so emosioneel is, of moet ek dit net so los? Is dié gedrag normaal?”

Die Vanderbijlparkse voorligtings- en opvoedkundige sielkundige CP de Jager sê dis moeilik om vir seker te weet wat die oorsaak van die gedrag is. Hy wonder wat die pa se reaksie op die gehuil is en of die pa min in die kind se lewe is. “Dit kan wees dat die kind ontsteld is, maar die feit dat hy kwaad raak wanneer hy nie sy sin kry nie, wil voorstel dat hy dink hy moet huil om sy sin te kry. Ek dink die ma is reg om die kind na ’n sielkundige te neem; hy kan daar deeglik geëvalueer word.”

Hoekom huil kinders nog?

Soos volwassenes huil kinders ook wanneer hulle stres of trauma ervaar. Dit sluit in siekte, besering, verwarring, angs, ouers wat stry of geskei is of selfs die koms van ’n nuwe baba. Kinders sien ook geweld in die media en dit kan lei tot gevoelens van vrees en verwarring. Ander oorsake soos depressie is ook ’n moontlikheid.

Hoekom jou kind nie heeltyd by die skool moet huil nie

Kinders moet liefs nie by die skool huil nie, want hul maats kan hulle dalk spot. Aanvanklik kan dit simpatie uitlok, maar as hulle dit te veel doen, kan dit mense frustreer.

Wenke om die trane te hanteer

Deel dié wenke met jou kind sodat hulle hul emosies in toom kan hou wanneer die trane naby is:

  • Haal asem: Asem in deur die neus in uit deur die mond. Stadige asemhaling gaan jou kind kalmeer. Oefen dit by die huis.
  • So maklik soos 1, 2, 3: Leer jou kind ’n moeilike situasie hanteer items om hulle te tel, syfers op te sê of ’n paar basiese wiskundesomme te doen.
  • Stap weg: Dit is baiekeer die beste manier om ’n bron van ontsteltenis te vermy. Die kind kan vra om verskoon te word of na ’n ander deel van die speelplek gaan.
  • Drukkies: Druk sommer jouself as daar niemand naby is nie! Jou kind kan hulself kalmeer deur hul arms om hul lyf te hou en positiewe gedagtes soos “Ek is okay” of “Sodra ek by die huis kom sal ek mamma vertel, sy sal my help” te dink.

- Dalena Theron

Ekstra bronne: awareparenting.com, psychologytoday.com, livestrong.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.