Hoe om jou van die internet af te verwyder

Ná die Edward Snowden-skandaal in die VSA, en onlangse berigte dat selfs die SA regering Facebook om inligting oor sekere mense genader het, raak dit ál duideliker jou aanlyn teenwoordigheid is nie meer privaat nie.

Die ergste van alles? Selfs al skrap jy al jou aanlyn profiele, sal dit waarskynlik nie jou inligting van die internet verwyder nie. Op sekere tuistes sal al jou inligting – jou adres, telefoonnommers, foto’s van jou kinders – in die kuberruimte bly rondsweef, selfs al het jy die skrap-knoppie gedruk.

Daar is egter ’n tuiste wat kan help: JustDelete.me. Hierdie eenvoudige webtuise verskaf honderde skakels om jou te help om jou rekening te verwyder van omtrent elke webdiens waaraan jy al ooit behoort het. Die skakel neem gebruikers na die bladsy wat jou in staat stel om jou profiel of rekening van sekere webtuistes te verwyder.

Dit ken selfs graderings toe aan hoe maklik dit is om jou profiel te skrap. Die kleurgekodeerde stelsel gebruik groen vir rekenings wat maklik is om te skrap, geel vir tuistes wat ’n paar ekstra stappe verg en rooi vir dié wat nie heeltemal geskrap kan word sonder dat jy hul kliëntedienste nader nie. Swart dui op profiele of rekenings wat onmoontlik is om te skrap.

Om jou inligting van Google, Dropbox en eBay te verwyder is byvoorbeeld maklik, terwyl Adobe, Ask.fm en Craigslist moeilik is. Dis vreesaanjaend dat sekere tuistes, soos Netflix, Pinterest en YouTube, hoewel hulle jou dalk toelaat om jou rekening te deaktiveer, die gradering van onmoontlik kry.

Die gewilde sosiale netwerke, Twitter en Facebook, word onderskeidelik as maklik en matig gereken.

JustDelete.me laat gebruikers ook toe om webtuistes voor te stel wat gevoeg kan word by hul reeds uitgebreide lys.

Die webtuiste is geskep deur ’n Britse ontwikkelaar, Robb Lewis. Volgens sy blog het hy gefrustreer geraak met tuistes wat dit moeilik maak om inligting te verwyder. “Nadat ek ’n paar twiets gesien het oor hoe moeilik dit kan wees om jou Skype-rekening te skrap, en toe hoor dat Netflix weier om jou inligting te skrap, het ek besluit om JustDelete.me te bou.”

-         Kirstin Buick

Bronne: huffingtonpost.com, justdelete.me, robblewis.me/just-delete-me/

Foto: Eric Messa op Flickr