Leerders van binnelandse provinsies is al terug skool toe, en die kusprovinsies se leerders is Woensdag terug in die hok. Hoe motiveer jy jou kinders ná ’n maand lange vakansie om die skool met nuwe ywer aan te pak?

Hier is vyf wenke van Godfrey Madanhire, lewensafrigter van Kaapstad, oor hoe jy jou kinders vir die nuwe skooljaar kan help motiveer.

Herinner hulle daaraan dat die skool nie net vir akademie is nie, sê hy. Sê vir hulle die begin van die kwartaal beteken ook hulle sal weer aan sport, debatte of enige ander buitemuurse aktiwiteite wat hulle geniet, kan deelneem.

Hulle gaan ook weer hul vriende sien. “Vertel vir hulle stories van jou vriende op skool en herinner hulle daaraan dat skoolvriendskappe ’n leeftyd kan hou,” sê Godfrey.

Help hulle hul eie doelwitte vir die jaar stel. Dit kan enigiets wees, soos om by ’n sportspan aan te sluit of drie A-simbole te verwerf. Vra hulle om dit neer te skryf voor hulle met skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite oorlaai word. En moenie jou doelwitte op hulle afdwing nie; hulle moet met hul eie vorendag kom, sê hy.

Vertel vir hulle positiewe stories van toe jy op skool was. Dit sal hulle aanmoedig om positief oor skool te dink.

As jou kind eers Woensdag skool toe gaan, kan jy hulle solank aan die vroeg opstaan gewoond maak. Maak hulle hierdie naweek vroeg wakker, maar moenie hulle net sonder rede wakker maak nie, sê Godfrey. “Laat hulle opstaan om iets opwindends te doen, soos om strand toe te gaan of by ouma te gaan kuier.”

-Petro-Anne Vlok