Binne ’n jaar het Ashleigh Munn (24), ’n student in kindersorg van Port Glasgow, ’n allemintige 45 kg verloor deur bloot haar dieet te verander en ’n gereelde oefenprogram te begin volg. Sy het toe haar gedaantewisseling op die sosialemediaplatform Instagram gedokumenteer. En die resultate is verstommend!

In 2013 het Ashleigh, wat altyd oorgewig was, haar swangerskap as ’n verskoning gebruik om haar aan ongesonde gemorskos te vergryp. Dit het gemaak dat sy nog verder gestoel het.

Teen die tyd dat sy in Januarie 2014 die lewe aan haar dogter, Mya, geskenk het, kon sy nie loop nie weens haar gewig van 101 kg.

Lees ook: So het SA man 151 kg afgeskud

Ashleigh het die toestand symphysis pubis disfunksie (SPD) ontwikkel weens die druk van haar gewig en moes op krukke staatmaak om haar heupe en bekken te ondersteun.

In November 2014 het dokters ’n gewas so groot soos ’n spanspek aan haar linker-eierstok ontdek. Die jong ma se een eierstok en Fallopius-buis is toe tydens ’n operasie verwyder.

Die dokters het gemaan haar gewig en ongesonde leefstyl het dalk die sist veroorsaak.

Lees ook: Verslap jou skoonmaakrooster vir gesonder spysvertering Ashleigh beskryf die ervaring as “vreesaanjaend”, maar dit was die motivering wat sy gekort het om haar reg te ruk. “Ek was net 23 en moes ’n operasie ondergaan om my eierstok te verwyder. Ek het gevoel ek is te jonk om dit te beleef. “Ek was nie gelukkig met myself nie. Ná my operasie het ek gedink: ‘Ek doen dit nie meer nie . . . ’

“Ek het ma’s by speelgroepe sien rondhardloop, maar ek was te verleë oor en bewus van my grootte, en ek het gou uitasem geraak.” Deesdae het sy die energie en vertroue om saam met die tweejarige Mya rond te draf en sy wil hê haar dogter moet gesonde gewoontes aanleer. “Ek wil nie hê my dogtertjie moet grootword terwyl haar ma nie rondhardloop nie en gemors eet. Ek wil die beste rolmodel wees.” As deel van haar nuwe doelwitte vir gesonder leef, het Ashleigh ’n vegetariër geword. Sy het fiksheidskenners en “kleurryke” vegetariër-rekeninge op Instagram begin volg. Die video’s oor gesond kook en resepte wat sy aanlyn gekry het, het haar geïnspireer.

“Ek het behep geraak daaroor om kommentaar te lewer op mense se wonderlike maaltye. Ek het hulle gevra hoe hulle dit gemaak het en allerhande moontlikhede beproef en besluit om Instagram my kosdagboek te maak,” het sy gesê.

Deel van haar verslankingsreis het behels dat sy vier maande lank alles wat sy geëet het, aanlyn geplaas het. Sy sê dit was ’n manier om “slegte” kosse te vermy en ook haar vordering met haar volgelinge te deel. Om in verskeie stadiums van haar gewigsverlies foto’s van haar krimpende lyf te plaas het ook Ashleigh se selfvertroue ’n hupstoot help gee. “Mense het vir my baie ondersteunende kommentaar geskryf.” Sy het ook gesonde kos vir haar en haar lewensmaat, David Barclay (25), leer berei. Hy het self binne ’n jaar 19 kg afgeskud. Sy doen ook gereeld joga, besoek die gim en gaan stap saam met Mya om haar fiksheidsroetine vol te hou.

“Ek en Mya se pa, David, kan nie vir haar sê sy moet gesond leef as ons dit nie doen nie.” Ashleigh het al amper 50 kg afgeskud en weeg nou maar 65 kg. Die gesin het beesvleis in hul dieet vervang met Quorn (’n Britse produk wat soos vleis lyk en proe, en ook in Suid-Afrikaanse supermarkte te koop is) en berei elke maaltyd van nuuts af. Oor haar eertydse ongesonde leefstyl sê Ashleigh: “Ek en David het ons altyd volgeprop met voorafverpakte maaltye en braaigeregte en Iceland (handelaars van bevrore kos) was my gunsteling-winkel.

“Ek het ouvroue-onder-die-kombers, bevrore kerries, skyfies, uieringe, worsrolle en pasteie gekoop – niks goed vir jou nie. Daar was nooit groente in my dieet nie en die enigste ding wat ek kon kook, was pasta.”

Sy is bly sy sal nou ’n goeie voorbeeld vir haar dogter stel en wil nooit weer soos haar ou self lyk nie – en sy sê haar lewensmaat sal dit ook nie toelaat nie.

“Ek sou dit nooit sonder David se ondersteuning kon gedoen het nie. Ons is nou baie sterker en fikser.”

– Latashia Naidoo?

Bronne: dailymail.co.uk, mirror.co.uk

HOOFFOTO: Facebook