Jeannie du Plessis, skakelbeampte van die projek waartydens opgraderingswerk sowat 48 uur lank aan die netwerk gebring is, sê die aansluiting is Woensdagaand om 23:00 voltooi.

“Baie mense het vanoggend weer water gehad, maar dit kan ’n ruk duur voor alle inwoners se watertoevoer terugkeer na normaal,” sê sy.

Volgens Jeannie is die nuwe pype 1,2 m in deursnee en het dit 12 mm-wande. “Dit is baie sterk pype.” Sy het werkers geloof vir hul harde werk. “Die mense het in aflosspanne 41 uur aanmekaar gewerk, deur die nag. Ek het soveel respek vir die sweis- en vakmanne en wil hulle graag bedank vir hul toewyding.” Jeannie het Pretorianers ook bedank vir hul geduld gedurende die noodsaaklike instandhouding.

Vir die projek volg nog een afsluiting in Waverley, teen die middel van September. Die omvang daarvan sal egter nie so groot wees soos die afgelope onderbreking nie.

Twee van die aanvanklike pype het onder Moreletaspruit deurgeloop, maar is nou gelig. Die ligging is beter vir die leeftyd van die ysterpype. “Daar is baie beskerming om die pype om dit 100 persent te beskerm,” sê Jeannie.

Nelmarie Meyer, ’n inwoner van Constantiapark, een van die 35 woongebiede wat oor die waterafsnyding gewaarsku is, sê sy en haar man het voorsiening gemaak vir die verwagte onderbreking deur die bad vol te tap vir water vir skottelgoed, die toilette en drinkwater, maar hulle water was nooit onderbreek nie. “Ons is egter baie bly die pype is vervang,” het sy gesê.