Kapenaars waag dit nie die afgelope paar dae om ’n voet buite die huis te sit nie weens die geniepsige Suidooster. En dit lyk of hulle maar vir nog 'n paar dae agter geslote deure sal moet skuil.

Volgens die weerkantoor gaan winderige toestande tot minstens nog die naweek voortduur in die Moederstad. Ons hoor gedurig hoe depressie toeneem in die winter en hoe koue, nat reënweer ’n uitwerking op jou gemoed kan hê. Terwyl sonnige weer baie mense gelukkiger maak, wat hou die wind vir ons gemoed in? Nie net laat dit vroue se hare koek en in alle rigtings waai nie, dit laat ons ook mismoedig. Wind het beide negatiewe en positiewe ione, maar dis juis die positiewe ione wat ons so negatief laat voel. Die mees algemene effek van positiewe ione sluit spanning en geïrriteerdheid asook ’n vertraagde reaksie in. Dus is jy darem nie heeltemal besig om mal te raak as die wind jou minder effektief hierdie week laat nie!

Terwyl die vloedwaters in die noorde oorneem, waai ’n ander soort wind in Kaapstad. Tog meen Windguru Dinsdag sal ietwat rustiger wees en sal rukwinde ’n maksimum van 14km/h bereik.

Woensdag tel die windspoed weer op en daar word verwag dat rukwinde tot en met 23km/h kan waai, terwyl Donderdag die slegste lyk met rukwinde van 29km/h! Vrydag neem die wind se spoed weer af, maar Saterdag tel dit weer op.

Praat van ’n warrelwind-wind!

Bronne: windguru.cz, nytimes.com