As jy jong  kinders het, gaan jy heel moontlik nie baie uit vir romantiese aandjies saam met jou geliefde nie.  Maar dit hoef nie so te wees nie. Jy kan steeds ’n heerlike aand uit geniet, al is jy ’n ouer. Hier is raad:

Die vra van ’n familielid

Net omdat iemand familie is, beteken nie hulle is die beste oppasser vir jou kind nie, sê Bianca Steyn van Sitters4U, ’n kinderoppassersagentskap in Kaapstad en Gauteng. “Vertrou jou instink en luister na jou kinders. Hou hul gedrag dop,” sê sy. “As ’n kind ’n baie sterk reaksie teen iemand het, veral wanneer hulle die mens ken, moet jy liewer nie jou kinders by hulle los nie.”

Vra jou ook af: Het hulle die nodige vaardighede in geval van ’n noodgeval om na die kind te kyk? Byvoorbeeld, sal jou 15-jarige susterskind weet hoe sy moet maak wanneer jou kind stik?

Bianca beveel aan jou oppasser moenie jonger as 16 wees nie. “Jonger tieners het nie die emosionele of liggaamlike volwassenheid om baie van die potensiële probleme te hanteer nie. ’n Goue reël: Hoe jonger die kinders is, hoe ouer en hoe meer ervare moet die oppasser wees.”

Die kies van ’n agentskap

Nie almal kan ’n vertroude familielid of vriend wat naby woon, vra om op Valentynsdag na hul kinders te kyk nie. ’n Agentskap is ’n veilige keuse, mits dit ’n betroubare onderneming is wat hoë standaarde aan sy personeel stel, sê Bianca.

Wenke vir die gebruik van ’n kinderoppassersagentskap:

  • Doen jou navorsing: Wanneer jy ’n kinderoppasser kies, behandel dit soos ’n werkonderhoud, sê Nataliia Zakriachenko van Baby-Sitters.co.za. “Nes met enige werk, is dit belangrik om agtergrondinligting te kry. Vra hul kwalifikasies, ervaring en of hulle ’n gesin of hul eie kinders het,” sê sy. “Om ’n kandidaat met ’n akademiese agtergrond in onderwys of verpleging te kies is dalk die beste raad.” Vra by jou skool of daar onderwysers is wat hul diens as oppasser aanbied.

  • Vra verwysings: Dis uiters belangrik, sê Bianca. “Verwysings kan ’n uitstekende aanduiding wees van die kinderoppasser se vermoë, vaardighede en persoonlikheid. Vra die verwysing uit oor hul kinders. Hoe oud was hulle toe die oppasser hulle versorg het? Het hulle probleme met betroubaarheid of stiptelikheid of enigiets anders ervaar? Hoe het jou kind oor die oppasser gevoel?”

  • Doen ’n proeflopie: ’n Goeie kinderoppasser sal nie huiwer as jy ’n proeflopie versoek nie, sê Nataliia.“Kyk hoe sy met jou kinders oor die weg kom. Hou jy van haar styl? Wat van haar onderrigvaardighede? Is sy spelerig? Is jy gemaklik met hoe sy dissipline toepas? Hoe reageer die kinders op haar? Dit alles sal help wanneer jy moet besluit of jy haar gaan gebruik.”

  • Ligging, ligging, ligging: Kies ’n oppasser wat naby woon en die gebied ken, sê Nataliia. Hulle sal weet hoe om in ’n noodgeval by die naaste hospitaal of polisiekantoor uit te kom.

  • Jou behoeftes: Elke gesin het hul eie behoeftes. Byvoorbeeld, as jou kind ’n gestremdheid of chroniese siekte soos asma het, moet jy dit aan die agentskap oordra en sorg dat die oppasser behoorlik opgelei is daarvoor. Maak ook seker die kinderoppasser praat jou kind se taal vlot, sê Nataliia.

  • Noodhulp: “Ideaal gesproke moet jou oppasser noodhulpopleiding hê en die Heimlich-maneuver ken, en weet hoe om dié tegniek behoorlik toe te pas,” sê Bianca. “Kennis van KPR-tegnieke vir kinders en babas is ook allerbelangrik. Jy moet ’n noodhulpkissie hê wat vir die oppasser toeganklik is en hulle moet weet waar dit is.”

  • Vertrou jou instink: “Daar is dalk ’n kandidaat met ’n merkwaardige kinderoppassers-CV, wonderlike verwysings en die volmaakte antwoorde op al jou onderhoudvrae, maar iets voel nie pluis nie. Kry dan liewer ’n ander kinderoppasser wat jy volkome vertrou,” sê Natalia.

Daar is ander moontlikhede 

Party kleuterskole bied ná ure sorg aan oor naweke of vir spesiale geleenthede. Vind uit of daar een in jou omtrek is wat op Valentynsdag na kinders sal kyk.

Dieselfde raad geld steeds: Jy moet ’n agtergrondondersoek van die kleuterskool doen, verwysings versoek, vooraf na die geriewe gaan kyk en die personeel ontmoet.

Sê nou jy kan nie ’n oppasser kry nie?Dis nie net tipiese gesinsvriendelike restaurante wat kindervriendelike geriewe soos aktiwiteitsvertrekke of buitemuurse klimrame bied waar kinders kan speel nie. Deesdae maak deftiger restaurante ook voorsiening vir ouers en kinders. Vra by plaaslike restaurante of hulle sulke geriewe het voor jy plek bespreek.

Nog ’n gesinsvriendelike Valentynsdag-uitstappie is ’n piekniek op ’n nabygeleë wynplaas of in ’n botaniese tuin. Kyk aanlyn of plekke naby jou iets vir Valentynsdag beplan.

-Petro-Anne Vlok