Gebruik jy WhatsApp? Dan moet jy hier lees.

Het jy onlangs ’n versoek van WhatsApp ontvang rondom die opgradering van jou bestaande weergawe van dié gewilde kletsapp? Moet die nie summier aanvaar nie. Daar’s ’n vangplek waarvan jy dalk onbewus is.

Tot nou toe het WhatsApp en Facebook bitter min inligting met mekaar uitgeruil. Maar met die nuutste fynskrif in WhatsApp se terme en voorwaardes, dit gou verander.

Sou jy dié nuwe opgradering en gepaardgaande terme en voorwaardes aanvaar terwyl jy ook ’n Facebook-gebruiker is, gee jy dié sosialemediareus verniet en gratis onder meer toegang tot jou selnommer, die tipe foon wat jy gebruik en met wie jy interaksie het.

Facebook, die eienaar van WhatsApp, sal dan in staat gestel word om jou bedrywigheid op WhatsApp te monitor en jou byvoorbeeld met spesifieke produkte te teiken.

Dit sal Facebook ook in staat stel om vriend-versoeke van mense met wie jy interaksie op Facebook het, aan jou te stuur.

Nie almal wil graag vriendskapsbande op Facebook sluit met mense waarmee jy om watter rede ookal op WhatsApp gesels of interaksie het nie. Boonop het WhatsApp nog altyd daarby gestaan dat persoonlike inligting nooit te koop sou wees nie.

“Ons het nie, ons doen nie, en ons sal nooit jou persoonlike inligting aan enigiemand verkoop nie. Punt. Einde van die storie,” het Jan Koum, een van WhatsApp se stigters, in 2009 gesê.

Toe Facebook dié app in 2014 oorgekoop het, het hy dit weer benadruk: “WhatsApp sal outonoom bly en sal onafhanklik funksioneer.”

Met die opgradering het WhatsApp op ’n vreemde manier wel woord gehou dat inligting nooit verkoop sal word nie. Maar soos genoem: as jy toestemming daartoe gee, word jou inligting nie verkoop nie: dit word bloot verniet weggegee.

Sedert die aankondiging op 25 Augustus 2016 gedoen is, het dit redelike branders onder diegene wat uiters gesteld op hul privaatheid is, veroorsaak.

Die grasie-tydperk vir WhatsApp-gebruikers om te kies of hulle hul inligting aan Facebook wil oorhandig al dan nie verstryk binne 30 dae na daardie aankondiging.

Terloops, die enkripsie-funksie beskerm steeds jou boodskappe op WhatsApp.

Wat kan ek doen as ek nie wil hê WhatsApp moet Facebook toegang tot my inligting gee nie?

  1. Soos met enige kontrak/ooreenkoms moet jy altyd die bepalings en voorwaardes aandagtig deurlees.
  2. Moenie net “Agree” klik nie. Blaai verder af tot waar jy die blokkie sien wat aandui dat jou inligting met Facebook gedeel sal word.
  3. Deaktiveer die keuse wat reeds baie vriendelik namens jou ingevul is.

Moenie bekommerd wees as jy reeds die opgradering aanvaar het sonder om die bepalings en voorwaardes mooi deur te lees nie.

Jy kan dit nog keer.

Maak WhatsApp oop op jou selfoon. Gaan na "Settings".

settings

Kies die "Account"- opsie.

account

Klik op "Privacy".

privacy

Verskeie keuses sal opduik. Jy sal opmerk dat "Share my account info" in alle waarskynlikheid reeds namens jou geaktiveer is. Klik op die blokkie en die regmerkie sal verdwyn.

laaste stap

Jou selnommer sal, tot verdere kennisgewing, nie aan Facebook verskaf word nie.

Bron: wired.com