Huisgenoot het onlangs verslag gedoen oor hoe tegnologie dowe kinders kan help. Ons gee kennersraad vir ouers wie se kinders gehoorprobleme ondervind en meer oor die jongste ontwikkelings in gehoortegnologie.

Wie kan gehelp word?

Vroeë opsporing van doofheid en gesofistikeerde nuwe tegnologie stel oudioloë en dokters in staat om dowe kinders te leer hoor en praat, selfs al het hulle minder as 1 persent gehoor. As gehoorverlies gediagnoseer kan word voor ’n baba ses maande oud is, kan ouers geleer word hoe om hul baba se brein te ontwikkel en te leer praat voor die brein sy vermoë verloor om ’n nuwe taal aan te leer, sê die oor-, neus- en keelspesialis dr. Derrick Wagenfeld van Somerset-Wes. Hy is betrokke by pogings om dowe kinders weer te laat hoor, asook by die Carel du Toit-sentrum in Tygerberg vir spraakontwikkeling in Kaapstad.

Op watter ouderdom kan kinders gehelp word?

Volgens Lida Müller, ’n oudioloog by die Tygerberg-hospitaal, is dié vroeë opsporing van kardinale belang, want daar is net ’n kort venstertydperk waarbinne ’n baba optimaal gehelp kan word. Studies het bewys dat kinders wat voor ses maande gehoorapparate kry en in habilitasieprogramme ingesluit word, binne vyf jaar net so goed soos hul horende maats kan gesels. Hoe gouer die breinbane vir gehoor en taalontwikkeling dus gestimuleer word, hoe beter kan ’n kind normaal leer hoor en praat.

Hoe word kinders vir gehoorprobleme getoets?

Die toetse om vas te stel of ’n baba gehoorgestrem is, is vinnig en eenvoudig – geen wonder dus dat Amerikaanse ouers verplig word om ’n gehoorsiftingstoets op alle pasgebore babas uit te voer nie. As gehoorgestremdheid vroeg gediagnoseer word, kan die kind al as baba ’n kogleêre inplanting of ander gehoorhulp kry – en dié toestelle is deesdae so gesofistikeer dat dit kinders omtrent heeltemal normaal kan laat hoor.

Maar in Suid-Afrika word die meeste kinders se gehoor te laat getoets. Nou beywer ’n groep oor-, neus- en keelartse en oudioloë hulle om gehoorsifting vir pasgebore babas verpligtend te maak, maar hulle was tot dusver nog nie suksesvol in alle staatshospitale nie.

Die meeste privaat hospitale voer direk na geboorte ’n eenvoudige gehoorsiftingstoets op babas uit, as die ouers toestemming hul gee. Die meerderheid mediese fondse betaal vir die toets.

Waar kan ouers aanklop vir hulp?

So ’n verpligte gehoortoets kan die eerste stap wees om permanente gestremdheid weens doofheid iets van die verlede te maak, sê Laurette du Preez, ’n voormalige hoof van die Carel du Toit-sentrum.

Die Carel du Toit-sentrums (hulle is oor die land versprei) het ’n omvattende habilitasieprogram, so genoem omdat dit nie die gehoor herstel nie, maar dowe of hardhorende kinders so goed moontlik laat hoor.

Die span wat help, sluit oor-, neus- en keelspesialiste, oudioloë, spraakterapeute, onderwysers, maatskaplike werkers, sielkundiges en die ouers in.

Wat kos toetse en verdere stappe?

Volgens die Ear Institute kos ’n volledige gehoorsiftingstoets sowat R600. Laurette sê die toetse se koste speel ’n rol, maar die grootste struikelblok is die gebrek aan goeie primêresorgdienste, veral op die platteland. “Die regering sal die toets nie sommer verpligtend maak nie omdat primêresorgdienste nog nie gevestig is nie,” sê Laurette.

Die tweede groot faktor wat in baie dowe kinders se pad staan, is die hoë koste van kogleêre inplantings. ’n Inplanting is werklik peperduur, maar dit kan beteken dat die kind eindelik normaal sal kan praat en in ’n hoofstroomskool sal kan skoolgaan.

Opnames wat in 2012 gedoen is, wys ’n inplanting vir kinders kos sowat R250 000.

Wat kan inplantings vir kinders beteken?

Verskeie jong Suid-Afrikaanse kinders wat reeds as babas of kleuters kogleêre inplantings ontvang het, kan nou hoor. Van dié kinders is in hoofstroomskole, gesels met normale stembuigings, bel hul maats op selfone en kan gesprekke in raserige klubs hoor, waar hulle op die maat van musiek dans.

Was dit nie vir die relatief onopmerklike gehoorapparate agter hul oor nie, sou ’n mens moeilik kon glo dat enigeen van hulle ’n gehoorprobleem het. Dit is amper ongelooflik dat party van hulle minder as 1 persent gehoor gehad het.

Byna al die kinders met wie Huisgenoot gepraat het, het ’n groter gehoorverlies as duisende ander Suid-Afrikaners wat met gebaretaal en liplees kommunikeer. Maar hoe is dit moontlik dat ’n dowe baba kan leer hoor?

Wyle prof. Carel du Toit, die eertydse hoof van die departement oor-, neus- en keelkunde aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal, het met baanbrekerswerk bewys dat daar by byna elke dowe kind nog ’n klein bietjie gehoor behoue gebly het.

Hy het ook geglo as jy dié bietjie oorblywende gehoor met ’n gehoorapparaat versterk, kan jy ’n dowe kind leer hoor en normaal praat.

Hy het dit selfs bewys in die era voor kogleêre inplantings en digitale gehoorapparate. Nou maak kogleêre inplantings die proses makliker, maar is dit steeds noodsaaklik om dit binne die kritieke venstertydperk te doen.

Wat is ’n kogleêre inplanting?

Met dié operasie word ’n ontvanger in die skedelbeen agter die oor ingeplant. Dit kry impulse van buite via ’n lugdraad wat ook onder die vel ingeplant word.

’n Groep elektrodes loop van dié toestel deur die skedelbeen tot naby die gehoorsenuwee.

Die buitenste deel van die toestel bestaan uit ’n mikrofoon wat klank optel, ’n spraakverwerker wat klanke ontleed en dan kodeer en ’n toestel wat die inligting na die ontvanger oordra.

Kogleêre inplantings word gedeeltelik of volledig deur mediese fondse gedek.

Die algemeenste oorsake van gehoorverlies by kinders:

  • Die meeste gevalle van permanente doofheid is oorgeërf. Studies wat in 2011 gedoen is, toon sowat 7,5 persent van Suid-Afrikaanse kinders ly aan die een of ander vorm van gehoorverlies.
  • Middeloorontsteking is die algemeenste oorsaak van ’n soort doofheid bekend as geleidingsdoofheid. Gereelde oorinfeksies kan ’n kind se gehoor permanent aantas.
  • Duitse masels tydens swangerskap kan permanente doofheid veroorsaak. As ’n vrou in die eerste agt weke van swangerskap Duitse masels opdoen, is die kans 86 persent dat haar baba doof kan wees.
  • Die volgende probleme tydens swangerskap kan gehoorverlies in die ongebore baba veroorsaak: infeksie met die sitomegalovirus, Rhesus-onversoenbare bloed tussen ma en baba, skildklierprobleme en diabetes by die ma.
  • As die baba by geboorte ’n suurstofgebrek ondervind of langer as vyf dae aan ’n asemhalingsapparaat gekoppel moet word.
  • As die baba by geboorte minder as 1,5 kg weeg.
  • Geboortebeserings (veral kopbeserings) en geelsug by babas is ook moontlike oorsake.
  • Virus- en bakteriële infeksies soos meningitis by babas en kleuters.
  • Sekere soorte medikasie, soos party antibiotikas en TB-middels.

Die jongste ontwikkelings in gehoortegnologie:

  1. Kragtige gehoorapparate. Gehoorapparate kan klank so versterk dat jy doeltreffend kan kommunikeer, al het jy minder as 1 persent gehoor. Digitale tegnologie is baie beter as die ou analoë klanke. Dit het tot ’n geweldige verbetering in klankgehalte gelei. Die pryse wissel van R5 500 tot R80 000.
  2. Kogleêre inplantings. Die tegnologie is so goed dat mense wat teoreties totale gehoorverlies het, weer kan hoor. Dit kos sowat R250 000.
  3. Koordlose FM-stelsels. Die stelsel skakel agtergrondgeraas uit en is ontwerp om kinders met gehoorapparate of ’n kogleêre inplanting in ’n klaskamersituasie te help. ’n Mikrofoontjie wat aan die kraag van die spreker vasgeknip word, vang die onderwyser se stem op en stuur die klankgolwe koordloos direk na die kind se gehoorapparaat of spraakprosesseerder. Die kind hoor die onderwyser se stem direk deur die FM-ontvanger in hul oor. Die pryse wissel van R9 964 tot R21 750.
  4. Spraakherkenning. Party digitale gehoorapparate het hierdie funksie en kan onderskei tussen spraak en geraas. Spraak word herken en die steuring van agtergrondgeraas word verminder.
  5. Rigtingfokus. Sekere gehoorapparate en spraakprosesseerders kan gestel word om klank op te vang in die rigting waarin die persoon kyk. Dié program in die spraakprosesseerder van die kogleêre inplanting kan onderskei tussen voorgrond- en agtergrondgeluide.

Keer so middeloorontsteking

Middeloorontsteking is een van die algemeenste voorkombare oorsake van gehoorverlies. Kinders kry maklik middeloorinfeksies omdat hul oorkeelbuisies, wat lug inlaat en die vog weglei wat tydens griep of verkoue in die middeloor opbou, nou is en maklik verstop. Bakterieë en virusse beweeg sonder moeite van die neus en keel na die middeloor. Vog wat in die middeloor ophoop, is ’n ideale broeiplek vir bakterieë. Oorpyn ontstaan weens die ontsteking en groot drukking teen die trommelvlies.

Voorkom middeloorontsteking deur nie jou baba of kleuter met ’n bottel bed toe te laat gaan nie, want melk wat in die oor inloop, kan tot infeksie lei. Moet ook nie kinders met oorpypies (grommets) sonder goeie plastiek- of silikoonoorpluisies laat swem of bad nie. As water met bakterieë in hul middeloor beland, is verdere oorinfeksies en doofheid dalk hul voorland.

Maak seker jou kind kan hoor

As jou kind nie die volgende dinge kan doen nie, moet jy hul gehoor laat toets:

  1. Geboorte tot ses maande – jou kind moet:

  • skrik wanneer hulle harde geluide hoor;
  • wakker word wanneer hulle ’n harde geluid hoor.

  1. 2.       Ses tot 12 maande – jou kind moet:

  • reageer wanneer jy hul naam roep;
  • hul kop na die bron van klank draai;
  • reageer op speelgoed wat musiek of ’n matige geraas maak.

  1. 3.       12 tot 18 maande – jou kind moet:

  • bewus wees van en reageer op musiek;
  • minstens tien woorde kan gebruik.

  1. 1½ tot 2 jaar – jou kind moet:

  • woorde in kort frases kan saamvoeg
  • name van gesinslede herken.

  1. 5.       3 tot 5 jaar – jou kind moet:

  • daarvan hou om na liedjies en stories te luister;
  • enige oor kan gebruik wanneer hulle oor die telefoon praat.

Het jy geweet?

  1. Tot twee derdes van oorpypies, wat self die oordrom kan beskadig en tot doofheid kan lei, word onnodig ingesit.
  2. As jy langer as 15 minute aan geraas van 100 dB blootgestel word, kan dit jou gehoor beskadig.
  3. Carel du Toit-sentra in Suid- Afrika bied ’n spesiale habilitasieprogram aan wat dowe en hardhorende kinders help hoor.
  4. Die program sluit individuele aandag aan elke kind in, en word deur elke kind se behoeftes bepaal.
  5. Dit behels altyd ’n gehoorapparaat en dikwels ook ’n kogleêre inplanting.
  6. Die rol van die spraakterapeut en die ouers is deurslaggewend.

Kry hier hulp:

  • Tygerberg 021-983-5303
  • Pretoria 012-361-4710
  • Bloemfontein 051-405-2712
  • Oos-Londen 043-709-1227
  • Die Carel du Toit-webwerf

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.